Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Noord-Kaapse provinsiale openingsrede: Fokusareas lyk oorwegend goed – maar kan ANC se “ontwikkelingstaat” dit uitvoer?

Die premier van die Noord-Kaap, Dr. Zamani Saul, se provinsiale rede het grootliks op die modernisering van die provinsie klem gelê.

Dit strek oor die terreine van kommunikasie, onderwys, gesondheid, veiligheid en energie-voorsiening. Voorts het hy skoon en doeltreffende regering as voorwaarde gestel in die werksaamhede van Suid-Afrika as ontwikkelingstaat.

Hoewel die VF Plus modernisering en skoon regering steun, glo die party dat ‘n vrye mark met ‘n staat wat ‘n omgewing skep wat groei stimuleer, meer vanpas is.

In ‘n subtiele weerspreking van president Cyril Ramaphosa se staatsrede, het Saul sterk klem gelê op die rol van die staat om werk te skep.

Hy het met trots verwys na dalende werkloosheid in die provinsie asook dat die provinsie van die laagste werkloosheid in die land het. Die standaard waarteen hy meet is egter só swak, dat beperkte waarde daaraan geheg moet word.

Die klem op die opleiding van die jeug is positief en moet ondersteun word. Verder word al meer funksies wat tans uitgekontrakteer word, volgens sy rede deur die provinsie oorgeneem.

Waardetoevoeging van mynbouprodukte en industrialisering van die provinsie het heelwat klem ontvang. Hier het die premier veral klem gelê op samewerking tussen die Noord-Kaap, Namibië en Botswana, deur spesiale ekonomiese sones (SES’s).

Dit sluit in die ontwikkeling van die diepsee-hawe by Boegoebaai in die Richtersveld met gepaardgaande spoorweg-ontwikkeling en die Noord-Kaapse waterstofstrategie.

Daarvoor word wesenlike bedrae vir infrastruktuur deur die provinsie begroot, terwyl Sasol swaar in die produksie van waterstof belê. Dit is die soort ontwikkeling wat die VF Plus ondersteun, op voorwaarde dat dit nie in die moeras van korrupsie en swak bestuur vasval nie.

Die premier spog ook oor die uitbreiding van sellulêre kommunikasie alhoewel dit nog in baie landelike dele van die provinsie ervaar moet word. Daar is dele wat selfs swakker verbindingsvermoë as tevore het.

Planne om die provinsiale gesondheidstelsel omvattend te moderniseer, kan ‘n noodsaaklike leemte vul, mits die uitvoering daarvan doeltreffend is.

Dieselfde geld sy planne rondom onderwys (insluitend naskoolse onderwys en opleiding), paaie en munisipale regering. Elkeen hiervan kan die provinsiale ekonomie tot stilstand dwing indien dit nie goed uitgevoer word nie.

Hoewel die premier oor die noodsaak van voedselsekerheid gepraat het, het hy min aandag geskenk aan landbou – die grondslag van voedselsekerheid.

Dit is ‘n sektor van die ekonomie wat tans onder onsekerheid weens populistiese uitsprake oor grondbesit deurloop. Die VF Plus beskou die verswyging hiervan as ‘n groot leemte.

In sy verwysing na provinsiale ondersteuning vir sportspanne, het die premier na die Hungry Lions-sokkerspan verwys wat streef na deelname in die premierliga terwyl die Griekwa-rugbyspan, reeds dekades lank ‘n deelnemer aan die Curriebeker se premierliga, verswyg is. Dit is vir die VF Plus onverstaanbaar.

Ongeag die befondsing van die span, behoort die volgehoue prestasie van hierdie span ‘n bron van trots te wees.

Die VF Plus stem saam dat klem op infrastruktuur, industrialisering – veral met betrekking tot waardetoevoeging tot mynbouprodukte – onderwys en opleiding van die jeug, sowel as voorsiening van energie deur son, wind en produksie van waterstof die provinsiale ekonomie tot ongekende hoogtes kan voer. Daarby mag landbou nooit verwaarloos word nie.

Die vraag is of transformasie en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) volgens huidige wetgewing belangriker as doeltreffende uitvoering gereken gaan word.

Dit is immers die rots waarop goeie planne in Suid-Afrika herhaaldelik te pletter geslaan is.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.