Die gesloer van die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) en die Gauteng-regering om vervalle rioolinfrastruktuur in Khutsong buite Carletonville te herstel om verdere sinkgate te voorkom, kan lewensgevaarlik wees.
Twee sinkgate het reeds meer as twee jaar gelede sowat 150m van die Hlangabesa- en die Badirile- sekondêre skole ingeval. Die sinkgate is nog nie gerehabiliteer nie en is gevul met rioolwater.
Ses maande gelede het ‘n sinkgat naby ‘n groep huise ingeval wat inwoners gedwing het om hul eiendom te ontruim omdat die geboue struktureel beskadig is.
Die munisipaliteit het HOP-huise aan inwoners beskikbaar gestel, maar baie weier om hul beskadigde huise te verlaat om na 'n HOP-huis te trek
In totaal is daar 219 sinkgate in Khutsong.
Die VF Plus het reeds twee jaar gelede die munisipaliteit gevra om dadelik met die rehabilitasie van die sinkgate te begin en om rioolinfrastruktuur te herstel en op te gradeer om te voorkom dat dit die sinkgate vergroot.
Riool- en waterlekkasies weens verouderende en verwaarloosde infrastruktuur, dring die ondergrondse water in en dra by tot die vorming van sinkgate.
Alhoewel die Gautengse regering ‘n bedrag van R118 miljoen en ‘n verdere R49 miljoen bewillig het vir die rehabilitering van sinkgate en die opgradering van infrastruktuur in Khutsong, is dit onbekend of dié fondse wel daarvoor aangewend is.
Van die sinkgate is net vol klippe gegooi, maar geen verdere rehabilitasie het plaasgevind nie.
Merafong, onder ANC-beheer, word al vir jare wanbestuur en korrupsie vier hoogty.
Dienslewering en die instandhouding en vervanging van kritieke infrastruktuur is vir die ANC nie van belang nie en inwoners gaan gereeld gebuk onder krag- en wateronderbrekings.
Die VF Plus gaan sy druk op die munisipaliteit vergroot om sinkgate behoorlik te rehabiliteer en antwoorde te verskaf oor hoe en waar die fondse vanaf die Gauteng-regering aangewend is.
Die situasie kan nie onbepaald voortduur nie en moet dringend aangespreek word om lewensverlies te voorkom.
Navrae: 082 671 2302