fbpx
Vryheidsfront Plus

Wanadministrasie in die WNNR sonder dat departement optree

Begrotingsposdebat in parlement: Wetenskap en innovasie)

Die departement van wetenskap en innovasie word gewoonlik as een van die pronkperde in die Suid-Afrikaanse regeringstal beskou. Dit is asof 'n mens nie verwag dat wetenskaplikes hulle met onreëlmatighede sal ophou nie.

Oor die afgelope maande het die VF Plus egter twee sake wat met die Wetenskaplike Nywerheids- en Navorsingsraad (WNNR) verband hou, opgevolg.

Die eerste gaan oor die uittrede van die voormalige uitvoerende hoof van die WNNR, dr. Sibusiso Sibisi. Hy het beweer dat die direkteur-generaal van wetenskap en tegnologie, dr. Phil Mjwara, druk op hom geplaas het om die tender vir die aankoop van 'n super-rekenaar te beïnvloed.

Nadat hy geweier het, het 'n werknemer wat vroeër afgedank is, bewerings van wandadministrasie teen hom gemaak.

Die destydse minister van wetenskap en tegnologie, me. Naledi Pandor, het luidens mediaberigte die bewerings baie ernstig opgeneem, sodat 'n ondersoek blykbaar teen Sibisi geloods is. Sy termyn het kort daarna verstryk en geen hernuwing het plaasgevind nie.

Sy opvolger, dr. Thulani Dlamini, het in 'n moontlik onverwante verwikkeling die WNNR se energievisie van hernubare krag na kernkrag verskuif.

Aangesien die VF Plus niks meer oor die ondersoek te wete kon kom nie, is 'n vraag aan die huidige minister, dr. Blade Nzimande, hieroor gestel. Sy antwoord vroeër vanjaar was dat daar geen ondersoek was nie.

Nog 'n sage wat die WNNR betrek, gaan oor die National Laser Centre (NLC). Hierdie sentrum het sedert 2000 'n wêreldleier op die gebied van 3D-drukwerk geword. Waardetoevoeging tot titanium en ander metale kan steeds vir Suid-Afrika groot voordele inhou.

Die tegniese hoof van die NLC is uit sy pos verwyder nadat hy bewerings van swak vordering en wanadministrasie gemaak het. Hy is gedwing om vroeër as beplan af te tree, maar die bewerings is uiteindelik 'n jaar later wel deur Fivaz en Genote forensies ondersoek. Ernstige bevindings is gemaak:

Volgens die verslag was die aanwysing van die hoof van die sentrum, mnr. Delon Mudaly, onreëlmatig. Daar is aanbeveel dat die sentrum herstruktureer, en dat hy in die nuwe struktuur oortollig sou wees. Die WNNR moes dan met hom oor 'n alternatiewe pos onderhandel.

Verder is bevind dat dieselfde persoon die inisiatief geneem het met die vervalsing van tydstate. Met hierdie tydstate het die WNNR ongeveer R2 miljoen van die departement van wetenskap en innovasie verkry, waarvoor geen werk verrig is nie.

Toe die VF Plus in November verlede jaar oor hierdie verslag vrae gevra het, het die WNNR aan die portefeuljekomitee vir hoër onderwys, wetenskap en innovasie verseker dat beslissend teen alle persone opgetree is, wat in die verslag uitgewys is.

Nadat minister Nzimande die verslag in Desember beskikbaar gestel het, het die VF Plus dieselfde vraag aan die WNNR gevra.

Die antwoord was dat daar nie teen mnr. Mudaly opgetree kon word nie, omdat hy homself nie aangestel het nie. Verder is tydstate blykbaar net interne beheermaatreëls en vervalsing daarvan minder ernstig.

Die VF Plus is nie van mening dat daar beslissend teen die persone wat met die Fivaz-verslag uitgewys is, opgetree is nie. Trouens, dit lyk meer of die parlement mislei is.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.