(Begrotingsposdebat in parlement: Minerale hulpbronne en energie)
Om mynbou en energie te beplan en te reguleer, is die doel van die departement van minerale hulpbronne en energie. Tog lyk dit asof daar geen visie in die departement is nie. Dit is wat 'n mens kan aflei uit wat in die praktyk in hierdie bedrywe geld.
Die ontginning van 'n land se minerale hulpbronne lê dikwels die grondslag vir die ontwikkeling van 'n gesofistikeerde ekonomie. Dit is immers hoe Suid-Afrika as 'n nywerheidsland tot stand gekom het. Tans is dit egter 'n ander storie.
Op verskeie plekke in die land, maar veral die Kalahari tussen Kuruman en Postmasburg, is mynlisensies toegeken sonder om plaaslike waardetoevoeging te bevorder, of die vervoer van erts na uitvoerhawens te beplan.
Na jare van verwaarlosing, is dele van die land se spoornetwerk nie meer in staat om groot massavragte te hanteer nie. Daarom is vlote vragmotors deur vervoerkontrakteurs aangekoop en groot hoeveelhede erts word vervoer op paaie wat vir 'n heel ander verkeersdrukte ontwerp is. Padverwering en slaggate is die gevolg.
Nie net bande en voertuie gaan in die proses verlore nie, maar ook menselewens. Daar is verskeie dele van die land waar mense ter wille van hul veiligheid eerder 'n grondpad ry as 'n teerpad met skerp en diep slaggate.
Die ander verantwoordelikheid van hierdie departement het met energievoorsiening te make. Terwyl 'n oopgestelde mark hernubare energiebronne tans sterk sal bevoordeel, staan die departement by 'n uitgediende model wat op fossielbrandstowwe gegrond is.
Die "korttermyn-oplossing" om kragskepe te huur wat vir twintig jaar aardgas gaan benut, is 'n voorbeeld daarvan.
Dalende pryse van hernubare energieopwekking, sowel as die klein skaal waarop dit reeds ekonomies is, beteken dat burgers binnekort nie meer van die staat en sy agentskappe afhanklik gaan wees om elektrisiteit te hê nie. Boonop wen elektriese voertuie vinnig veld, wat fossielbrandstowwe se bruikbaarheid verlaag.
‘n Mens kry soms die indruk dat die departement nie vir die toekoms beplan nie, maar vir die verlede en dat die departement fossielbrandstowwe so lank moontlik wil verbrand, ongeag die impak op die klimaat.
Die vraag ontstaan wat vir die regering die belangrikste is: Om klimaatsdoelwitte te behaal en "groen" werksgeleenthede te skep, of om gevestigde belange in fossielenergie te beskerm.