(Begrotingsposdebat in parlement: Menslike nedersettings)
Die bevolkingsaanwas en instroming in Suid-Afrika neem vinnig toe en daarmee saam die druk op infrastruktuur en behuising wat reeds buite beheer is. Dit het daarom tyd geword dat die ANC daadwerklik optree om ‘n ernstige maatskaplike ramp te voorkom.
Baie ander lande het programme van stapel gestuur om onder meer bevolkingsgroei te laat tred hou met die ekonomiese groei van ’n land. Suid-Afrika se ekonomie stagneer egter onder die ANC-regering en die land sak al hoe dieper in die moeras van maatskaplike nood weg.
Die ANC-regering sal moet erken dat dit ’n dwingende probleem in Suid-Afrika is en dat dit sy plig is om oplossings te vind. Dit is ’n allerbelangrike inligtings- en opvoedingstaak.
Die groot invloei van mense na Suid-Afrika sluit hierby aan. Hierdie mense vestig hulle toenemend in die land en dit help nie die regering sê dit is nie sy plig om na hulle om te sien of dat hulle nie hier mag wees nie.
Dit is ‘n realiteit dat hulle in Suid-Afrika is en daar moet ooreenkomstig hierdie realiteit beplan en voorsiening gemaak word. Dit kan ook nie weggeredeneer word dat hulle moet werk, slaap en eet om te oorleef nie.
Daar is reeds nie genoeg vir die land se eie mense nie en selfs die Verenigde Nasies voorsien in projeksies dat meer as die helfte van die land se mense in die afsienbare tyd sonder ‘n werk en ‘n inkomste sal wees. Die instromers is nie hierby ingereken nie.
As onmiddellike oplossing sal grond rondom stedelike gebiede so gou doenlik geïdentifiseer en beskikbaar gestel moet word. Hierdie proses neem tyd en sou boonop slegs ‘n pleister op ‘n sweer wees. Dit is nie ‘n langtermyn-oplossing nie.
Intussen vind onwettige grondbesettings toenemend plaas en dit sal in die toekoms sonder twyfel toeneem soos die maatskaplike krisis en die druk op hulpbronne vergroot.