Die VSA se aangekondigde handelstariewe van 30% met ‘n waarskynlik onderliggende geopolitieke motivering, is by implikasie ook ‘n direkte aanval op die ekonomiese voordele wat Suid-Afrika uit Agoa put.
Die tariewe is ook ‘n reaksie op Suid-Afrika se groeiende diplomatieke en ekonomiese verbintenisse met lande soos dié in Brics, wat deur die VSA as uitgeworpe “pariastate” of teenstanders beskou word en kan gesien word as ‘n poging om druk op Suid-Afrika uit te oefen oor sy buitelandse beleidskeuses.
Die impak op sleutelsektore soos die motorbedryf, landbou (veral sitrus en wyn), tekstiele en vervaardiging sal verwoestend wees en kan lei tot aansienlike werksverliese, verminderde uitvoerinkomste en ‘n algemene verswakking van die reeds sukkelende Suid-Afrikaanse ekonomie.
Wanneer ‘n algemene tarief van 30% bo en behalwe spesifieke sektortariewe soos die 25% op motors op alle Suid-Afrikaanse uitvoere gehef word, word die belastingvrye status van Agoa feitlik nutteloos.
Die tariewe skep aansienlike diplomatieke- en handelspanning tussen die VSA en Suid-Afrika wat verdere samewerking op ander gebiede kan bemoeilik.
Die Suid-Afrikaanse regering en in besonder die departement van handel, nywerheid en mededinging asook die presidensie, sal onmiddellik en dringend met hul Amerikaanse eweknieë moet onderhandel om tot ‘n vergelyk te kom voor die 1 Augustus sperdatum.
Suid-Afrika staan voor ‘n enorme uitdaging om met ‘n multidimensionele benadering te fokus op beide ekonomiese en diplomatieke strategieë.
Laasgenoemde blyk egter problematies te wees weens die ANC wat voor 2024 met swak ekonomiese beleidsrigtings, wanbestuur, korrupsie, onbeholpe buitelandse beleid en die ondersteuning van Rusland in sy konflik met die Oekraïne en die voortgesette saak in die Internasionale Geregshof teen Israel nie noodwendig simpatie van die VSA kan verwag nie.
Die regering van nasionale eenheid (RNE) sal dringend die land se buitelandse beleid, wat tans nog deur die ANC alleen gekaap is, moet aanpas en die onwerkbare ekonomiese beleide van die ANC wat onder meer swart ekonomiese bemagtiging (SEB) insluit, moet laat vaar.
Die VF Plus het met die onlangse besoek van sy leier, dr. Corné Mulder, en ‘n afvaardiging Afrikaner-leiers bewys dat die besoek van president Cyril Ramaphosa en sy afvaardiging aan die Withuis geen vrugte afgewerp het nie.
Die VF Plus sal met sy deelname aan die RNE en parlementêre prosesse ‘n konstruktiewe rol bly speel om Suid-Afrika op die herstelpad te plaas.


