(Debat oor Vrystaatse provinsiale openingsrede)
Net soos koning Osiris se blindheid teenoor sy broer se sondes in Egiptiese mitologie, hou die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, haar opsetlik blind teenoor die omvang van die Vrystaat se verval en haar party se aandeel daarin.
Vrystaatse paaie is só vervalle en gevaarlik dat inwoners as gevolg daarvan sterf. Die premier bevestig haar blindheid teenoor die ware omvang van die verval deur daarna te verwys as ‘n blote ongerief.
Die ANC is blind vir die bevoegdheid van kontrakteurs en sien slegs velkleur raak met die toekenning van tenders.
Vrystaatse belastingbetalers se geld word vermors op kontrakteurs wat nie die werk kan doen nie. Die enorme hoeveelheid voortslepende regsgedinge is voorkombaar indien bekwame maatskappye aangestel word om kritieke padinfrastruktuur te onderhou en ontwikkel.
Voedselsekerheid berus op 'n baie sensitiewe waardeketting in die landbou en elke veranderlike, onder meer reënval, weerpatrone en infrastruktuur, speel 'n belangrike rol. Dit is jammer dat die ANC plaaslike boere aan hul eie lot oorlaat om paaie reg te maak terwyl die boere verbete teen die res van die veranderlikes veg.
Intussen het die Vrystaat die geld wat nasionale tesourie beskikbaar gestel het vir die instandhouding van padinfrastruktuur, verloor weens die feit dat hierdie toegewysde fondse nie bestee is nie.
Dié probleem strek wyer as padinfrastruktuur. Munisipaliteite soos Matjhabeng het ook sowat R100 miljoen verbeur weens onderbesteding.
Vrystaatse munisipaliteite is bankrot. Mafube en Kopanong is nie in staat om salarisse te betaal nie.
Maluti-A-Phofung is ook intussen geïdentifiseer as 'n munisipaliteit wat nasionale ingryping benodig. Indien hierdie ingryping faal, bly daar niks oor van dié munisipaliteit nie.
Die eindelose faksiegevegte in Mangaung duur onverpoos voort. Regsgedinge is nou die norm, terwyl inwoners geen verbetering in broodnodige dienslewering sien nie.
Die ANC se oplossing vir al hierdie probleme is meer taakspanne.
Die oorblyfsels van die Vrystaat is nou meer as ooit in die gedrang weens jarelange politieke kwaadwilligheid, ‘n gebrek aan optrede en die opsetlike blindheid van die premier.
Dit is tyd dat hierdie realiteit tot haar deurdring.


