(Debat in parlement)
Suid-Afrika se ekonomie kan nie die toenemende druk bekostig om al hoe meer mense afhanklik te maak van ‘n staatstoelaag nie.
Die fokus in Suid-Afrika moet nie wees om mense ‘n welsynstoelaag te gee waarop hulle moet oorleef nie, maar om werk te skep sodat werkloses waarlik opgehef kan word om ‘n eie inkomste te verdien.
Die voortsetting van die huidige Covid-19-hulptoelaag sal Suid-Afrika in die komende boekjaar R44,4 miljard kos. Dit beteken dat die besteding aan maatskaplike toelaes vir 2022/23 tot 'n ongekende R364,4 miljard sal toeneem.
Dit is 3,9% van die land se totale BBP of 48% van aanstaande jaar se totale begroting.
Die minister van finansies, Enoch Godongwane, het met sy onlangse begroting onderneem om die toelaag met nog een jaar te verleng. Die probleem is egter dat mense toenemend afhanklik raak aan staatshulp wat moeilik weer weggeneem kan word.
Dit is duidelik dat Suid-Afrika se stotterende ekonomie hierdie enorme las nie kan dra nie. Oproepe van die ANC om die omvattende maatskaplike sekerheidstelsel uit te brei is daarom buite die kwessie. Daar is bloot nie geld nie.
Die land moet tans geld leen om sy maatskaplike uitgawes te kan bekostig.
Die feit dat soveel mense van ‘n toelaag afhanklik is, is ook geensins ‘n kompliment vir die regering nie, maar ‘n bewys hoe die ANC misluk het as regering.
Daar moet versigtig omgegaan word met planne oor pensioenhervormings. ‘n Situasie mag nie geskep word waar mense toenemend op die staat aangewese moet wees vir ‘n ouderdomstoelaag nie.
Die toelaag is nou reeds ontoereikend en nie naby die minimum loon nie.
Dit is belangrik om toe te sien dat onderwysers nie verlore gaan nie. Dit sal die land se reeds swak onderwysstelsel verder verswak en dit kan nie bekostig word nie.
‘n Goeie onderwysstelsel is onontbeerlik om mense voor te berei vir die toekoms en om te help bou aan die land en die ekonomie.
Daar moet sterk gefokus word op kwaliteit onderwys om die jeug te bemagtig om selfversorgend te raak. Dit is kortsigtig om te dink dat welsyn die enigste oplossing is om aan mense ‘n inkomste te bied.
Werkskepping en entrepreneurskap moet aangemoedig word. Daar is ‘n gesegde wat lui: “Gee 'n man 'n vis en hy eet vir 'n dag. Leer hom hengel en hy eet elke dag”.
Die ANC-regering kan gerus hiervan kennis neem.