fbpx
Vryheidsfront Plus

Vrystaatse wetgewer verlam weens gebrek aan professionaliteit

Die Vrystaat het vandag ʼn nuwe laagtepunt bereik toe die provinsiale wetgewer nie ʼn geskeduleerde sitting kon hou nie weens die ANC se blatante gebrek aan professionaliteit.

Die instelling se ampstaf, wat volgens die Vrystaatse wetgewer se reëls en ordes altyd tydens sittings teenwoordig moet wees, is in ʼn kluis toegesluit en die amptenaar verantwoordelik daarvoor is uitstedig.

Hierdie nalatigheid het veroorsaak dat ʼn belangrike sitting heeltemal gekanselleer moes word.

Die gevolge hiervan is dat die Vrystaat Woensdag tydens die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se sitting nie ʼn mandaat het om oor die wysigingswetsontwerp op die verdeling van inkomste te stem nie.

Dit plaas die hele begrotingsproses in gevaar en toon die onprofessionele wyse waarop sake in die provinsie hanteer word.

Die VF Plus het tydens ʼn swepevergadering daarop aangedring dat hierdie voorval deeglik ondersoek word en dat dissiplinêre stappe teen die verantwoordelike amptenare geneem word.

Die wetgewer, wat onder meer toesig moet hou oor die provinsiale regering, is veronderstel om ʼn toonbeeld van professionaliteit en verantwoordbaarheid te wees. Vandag se gebeure skaad die geloofwaardigheid van hierdie instelling.

Dit is veronderstel om die een instansie in die provinsie te wees wat goed funksioneer.

Onder die ANC het die Vrystaatse wetgewer die afgelope maande, sedert die verkiesing, verval tot ʼn instansie wat vandag die laagste punt in die geskiedenis daarvan bereik het. En dit weens blatante nalatigheid.

Hierdie voorval illustreer die ANC se totale gebrek aan vermoë om doeltreffend te regeer, selfs in die mees basiese aspekte van regeringsadministrasie.

Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen om professionele standaarde in die Vrystaat te herstel en die regering verantwoordbaar te hou vir sy mislukkings.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.