Die VF Plus het gister kruideniersware en hulpmiddels ter waarde van R100 000 aan die Triest-opleidingsentrum vir intellektueel gestremde volwassenes in Klerksdorp oorhandig.
Die VF Plus het hierdie skenking met die Taiwannese regering bemiddel. Dit vorm deel van ʼn inisiatief wat die party geloods het om private instansies wat maatskaplike dienste lewer, by te staan.
Dit is skokkend dat staatsondersteuning aan sulke instansies toenemend afneem. Die staat gee bykans geen erkenning aan die noodsaaklike en waardevolle rol wat instansies soos die Triest-opleidingsentrum in gemeenskappe vervul nie.
Die sentrum verskaf tans opleiding en versorging aan 52 intellektueel gestremde persone. Behuising en sorg word ook aan dertig persone verskaf.
Die opleiding behels onder meer basiese lewensvaardigheidsontwikkeling, kunsvlyt, kook- en bakkuns, asook houtwerk. ʼn Groot aantal van die inwoners het geen ander heenkome nie.
Die Triest-opleidingsentrum het in die afgelope boekjaar nog geen staatsondersteuning ontvang nie ten spyte van herhaalde aansoeke daarvoor by die Noordwes-departement van maatskaplike ontwikkeling. Geen terugvoer op die aansoeke is ook ontvang nie.
Dit is ironies dat pres. Cyril Ramaphosa gister verklaar het dat “die bemagtiging van gestremde persone aandag op die hoogste regeringsvlak geniet” en burgerlike organisasies loof vir hul rol in dié verband.
Die werklikheid wat die Triest-opleidingsentrum en tientalle soortgelyke instansies in die gesig staar, skep eerder ʼn beeld van ʼn regering wat deur sy onverskilligheid eerder aktief bydra tot die verwaarlosing van die lewensomstandighede van gestremde persone in Suid-Afrika. Dit is ʼn skande.
Die VF Plus sal voortgaan om hierdie teenstrydighede uit te wys en druk toe te pas dat die regering sy verpligtinge teenoor gestremde persone en versorgingsinstansies nakom.
Die VF Plus doen ook ʼn beroep op gemeenskappe om in die afwesigheid van staatsondersteuning, instansies soos die Triest-opleidingsentrum te steun.