fbpx
Vryheidsfront Plus

Vrystaatse departemente onderbestee op infrastruktuur en oorbestee aan salarisse

Die Vrystaatse regering het in die vorige boekjaar (2022/2023) misluk om fondse ter waarde van R2,5 miljard te bestee wat toegeken was vir infrastruktuurontwikkeling.

Die provinsiale regering het in dieselfde boekjaar sowat R424 miljoen oorbestee aan salarisse in die verskillende departemente.

Dit blyk uit verslae wat die onderskeie departemente vandeesweek aan die wetgewer se openbare rekeninge-komitee voorgelê het.

Die provinsiale departemente kon slegs ʼn gemiddeld van 52% van hul beskikbare infrastruktuurfondse vir die afgelope boekjaar bestee.

Departemente wat hulself aan onderbesteding skuldig gemaak het, moet nou by nasionale tesourie aansoek doen vir die oorrol van ongebruikte fondse.

Dit gaan beteken dat daar in die volgende boekjaar weereens ʼn onderbesteding sal wees, omdat hierdie departemente nie daartoe in staat is om behoorlik te beplan en daarvolgens te bestee nie.

Die departement van polisie, paaie en vervoer kon in die verslagdoeningstydperk slegs 57% van die beskikbare R1,5 miljard padinstandhoudingstoelaes bestee.

Dit terwyl daar ʼn reuse behoefte aan padinstandhouding in die Vrystaat bestaan. Tog het hierdie departement sowat R110 miljoen aan salarisse oorbestee.

Die departement van menslike nedersettings het nog slegter gevaar en kon slegs 21,7% van sy beskikbare R1,08 miljard bestee.

Gefaalde ANC-ideologieë en beleid, soos onder meer regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB), asook ongekende bedrog en korrupsie onder leiding van die ANC-regering, veroorsaak dat departemente nie optimaal kan funksioneer nie.

Die Vrystaat kan dit eenvoudig nie meer bekostig dat onkundige amptenare, bedrog, korrupsie en kaderontplooiing dienslewering verder kniehalter nie.

Die VF Plus sal in die volgende dae se openbare rekeninge-komiteevergaderings versoek dat die amptenary in hierdie departemente waar onderbesteding plaasgevind het, verantwoordbaar gehou moet word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.