Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus dien wetsontwerp in vir die Wes-Kaap se reg tot selfbeskikking

Die VF Plus het vandag ʼn wetsontwerp by die Wes-Kaapse wetgewer ingedien waarin erkenning gevra word vir Wes-Kapenaars as eiesoortige nasie met die reg op selfbeskikking.

Hierdie versoek is gegrond op die internasionale reg sowel as die Suid-Afrikaanse Grondwet om gestalte te gee aan die mense van dié gebied se unieke karakter met eiesoortige kulturele-, taal- en ideologiese waardes.

Artikel 235 van Suid-Afrika se Grondwet maak hiervoor voorsiening.

Dit lui: “Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ʼn gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ʼn territoriale entiteit in die republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal nie.’’

Die wetsontwerp sluit hierby aan deur erkenning te gee aan die Wes-Kaapse nasie as “duidelik onderskeibaar” van die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel.

Wes-Kapenaars het daarom die reg om vryelik sy eie politieke status te bepaal en om politieke, ekonomiese, maatskaplike en kulturele ontwikkeling na te streef op ʼn wyse waarop die mense self moet besluit.

Die Wes-Kaap se eie Grondwet gee verder gestalte aan hierdie reg deur ʼn duidelike verwysing na die regte van die mense van die “Wes-Kaap”. Ook na die strewe van Wes-Kapenaars om te ontwikkel en vooruitgang te maak.

Hieraan word tans geen uitvoering gegee nie en die mense van die Wes-Kaap staan soos die res van die land onder die dwingelandy van ʼn wanfunksionele ANC-regering. Dit is regering deur dwang en nie keuse nie.

Kennis moet ook geneem word van die feit dat die Suid-Afrikaanse regering die Afrika-Handves oor Mense- en Volkeregte op 9 Julie 1996 bekragtig het.

Hierdie handves bepaal dat “alle volke die reg tot selfbeskikking het sowel as om die ekonomiese en maatskaplike ontwikkelingsbeleide van hul eie keuse na te streef.’’

In 1998 het Suid-Afrika die Internasionale Konvensie oor Burgerlike en Politieke Regte bekragtig wat onder meer bepaal dat “alle volke die reg tot selfbeskikking het”.

In 2015 het Suid-Afrika die Internasionale Verdrag oor Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte van mense bekragtig wat hierby aansluit.

Sodoende het die regering homself deeglik onderwerp aan wetlike en internasionale bepalings rakende verpligtinge teenoor minderheidsregte en kulturele groepe.

Selfbeskikking neem verskeie vorme aan, maar dit sal uiteindelik bepaal word deur die mense van die Wes-Kaap self deur middel van onderhandelinge en ʼn referendum.

Artikel 37(2)(f) van die Wes-Kaapse Grondwet maak voorsiening vir die premier om so ʼn referendum uit te roep in konsultasie met die nasionale regering.

Die saak is nou in die hande van die DA om vas te stel of dit die wil van die inwoners van die Wes-Kaap is.

Die VF Plus meen die situasie in Suid-Afrika het onder die ANC ʼn kritieke kantelpunt bereik en die saak kan nie langer uitgestel word nie.

Die uurglas vir selfbeskikking is besig om vinnig uit te loop en die blote verkryging van provinsiale gesag oor treindienste en polisie, spreek nie die werklike dringende behoeftes van alle Wes-Kapenaars aan nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.