Swak regering en bestuur is een van die hoofoorsake vir die verval van munisipaliteite in die land – verál waar die ANC aan bewind is .
Dit het geblyk uit ʼn antwoord van die minister van tradisionele sake en samewerkende regering (Cogta), Thembi Nkadimeng, op ʼn parlementêre vraag van die VF Plus.
Tans beskik net 171 of 45% van die totale aantal munisipaliteite in die land oor voorgeskrewe infrastruktuur-herstelplanne. Hiervan word net 18 (sowat 9%) ten volle in werking gestel.
Die feit dat daar sedert 2022 ʼn skerp daling in herstelplanne is wat ten volle in werking gestel is – vanaf 60 tot slegs 18 in 2023 – dui duidelik daarop dat ANC-beheerde munisipaliteite steeds op ʼn glybaan na ineenstorting is.
Selfs in die Wes Kaap is daar tans geen munisipaliteit wat sy herstelplan ten volle in werking stel nie.
Dít terwyl die departement en die ANC-regering reeds vir jare die een na die ander ingryping by munisipaliteite aankondig om kiesers te paai.
Dit wissel van die implementering van ʼn niebestaande distriksontwikkelingsmodel teen R109 miljoen, tot eindelose aanmanings en “advies” aan munisipaliteite wat deurtrek is van korrupsie deur ontplooide ANC-kaders.
Voeg hierby die onlangse bevindinge van die ouditeur-generaal (OG), me. Tsakani Maluleke, wat onder meer uitgewys het dat sy weens die skaal van ongerymdhede en wetsoortredings by 27 munisipaliteite ouditmenings moes weerhou.
Dan is dit duidelik dat munisipale herstel onder ANC-bewind bloot ʼn hersenskim is.
Maluleke het verder bevind dat daar by 203 munisipaliteite nie voldoende begroot is vir die instandhouding en verbetering van infrastruktuur nie.
Intussen verval infrastruktuur in dorpe en stede teen ʼn ongekende tempo.
Gister weer, moes raadslede in die Matlosana-plaaslike munisipaliteit in Noordwes, wat veronderstel is om Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein te bedien, aanhoor dat Eskom beheer oor sy bankrekeninge geneem het.
Die rede hiervoor is uitstaande skuld van R1,2 miljard terwyl die munisipaliteit om ʼn reddingsboei by die nasionale tesourie bedel.
Intussen word 647 sake van bedrog en korrupsie landwyd deur die Valke en polisie ondersoek.
Korrupsie, bedrog, wanbestuur en onbevoegde, swak regering by munisipaliteite sal nie onder ANC-bewind uitgewis word nie.
Suid-Afrikaners verdien beter as die ANC.