Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Voormalige amptenare van Tshwane wat verdink word van ongerymdhede mag nie skotvry afkom

Die VF Plus dring daarop aan dat 20 voormalige amptenare van die Tshwane-metro wat verdink word van ongerymdhede tydens hul tydperk by die metro, nie skotvry daarvan afkom nie.

Luidens ʼn verslag wat voor die metroraad gedien het, het die metro se finansiële dissiplinêre raad 33 sake ter waarde van miljarde rande ondersoek waarby 55 amptenare betrek word.

Twintig van die amptenare het intussen die diens van die metro verlaat en daar kan nie dissiplinêr teen hulle opgetree word nie.

Die party beveel aan dat die metro dié amptenare strafregtelik vervolg vir ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste uitgawes tussen 2014 en 2021.

Die VF Plus sal in sy aanbeveling verwys na ʼn beslissing van die appèlhof in Bloemfontein wat bevind het dat ses voormalige amptenare van die Nelson Mandelabaai-metro geld moet terugbetaal vir uitgawes wat aangegaan is met die toekenning van ʼn onregmatige kontrak.

Die ses amptenare het net soos dié van Tshwane reeds die diens van die Nelson Mandelabaai-metro verlaat.

Nog drie van die sake het reeds verjaar en in twee gevalle was daar nie voldoende getuienis om verdere stappe te neem nie.

Daar is ook verder verslag gelewer oor vyf ander sake waarin onreëlmatige en verkwiste uitgawes gerapporteer is. Daar is aanbeveel dat R628 839 778 as onreëlmatige uitgawes afgeskryf moet word.

Daar is ook aanbeveel dat sowat R35 miljoen van diensverskaffers, amptenare en voormalige amptenare verhaal moet word. Sake van bedrog en diefstal is reeds by die polisie aanhangig gemaak.

Die VF Plus dring daarop aan dat amptenare, diensverskaffers of raadslede wat by die oortredings betrokke was, verantwoordbaar gehou word.

Die VF Plus sal oor die volgende weke meer oor die inhoud van die sake aan die gemeenskap bekend maak.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.