Die dramatiese middernagtelike aankondiging van die ANC dat die burgemeester en speaker van die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit (Kimberley en omstreke) en die burgemeester van die Dawid Kruiper-plaaslike munisipaliteit (Upington en omstreke) vervang gaan word, is ʼn erkenning dat daar ʼn munisipale krisis in die provinsie is.
Hierdie krisis strek egter veel wyer as net dié twee munisipaliteite.
Dié stap volg nadat Sol Plaatje verlede week van ʼn kategorie 5-munisipaliteit tot kategorie 4 afgegradeer is, asook weens ʼn omvattende ondersoek van die Valke in die Dawid Kruiper-munisipaliteit.
In Sol Plaatje was die jong Kagisho Sonyoni se aanwysing as burgemeester vanuit die staanspoor omstrede.
Hoewel sy potensiaal nie bevraagteken word nie, verg dit ervaring om burgemeester van so ʼn groot en belangrike munisipaliteit te wees. Met ʼn voortslepende waterkrisis en infrastruktuur wat verval, het die druk op hom toegeneem.
Verder is die ANC se papierdun meerderheid in ʼn tussenverkiesing omvergewerp toe die PA wyk 1 verower het. Dit is dus partye soos die PA self en Good wat die ANC aan bewind hou. Noukeurige bestuur van die raad self is gevolglik noodsaaklik.
Faksiegevegte binne die ANC in Sol Plaatje is waarskynlik ook ʼn faktor. Dit benadeel lank reeds die raad se werking en boonop kan dit in ʼn geheime stemming veroorsaak dat die ANC se planne omvergegooi word.
Die keuse van nuwe ampsdraers is byna net so dramaties as die vervangings self.
Mev. Martha Bartlett, die ANC se nuwe kandidaat vir burgemeester, is ʼn boorling van Kimberley en ʼn ANC-veteraan. Sy het as uitvoerende raadslid (provinsiale “minister”) gedien, voor sy in 2020 na die Nasionale Vergadering (NV) ontplooi is. Sy is alombekend vir haar gemoedelike persoonlikheid.
Die speaker-kandidaat, mev. Dipuo Peters, is een van die ANC se vuurvreters. Sy het al as premier in die Noord-Kaap gedien, sowel as nasionale minister van vervoer en van energie.
Tans is sy adjunk-minister vir kleinsakeontwikkeling. Dit lyk of die ANC iemand in daardie posisie wil plaas wat die sweep kan klap.
Terwyl Peters minister was, was sy egter hoogs omstrede en daar is meer as een keer teen haar opgetree. Sy het byvoorbeeld die direksie van Prasa wat R14 miljard se ongerymdhede ontdek het, afgedank.
In Dawid Kruiper word die huidige burgemeester, Michael Sigede, na die NV verskuif. Dit is moontlik dat hy vervang word weens ongerymdhede wat die Valke oopgevlek het, sonder dat hy noodwendig aanspreeklik gehou word. Sy plaasvervanger, David Kazi, is nie tans ʼn lid van die raad nie en ook minder bekend in die gemeenskap.
Dit is duidelik dat die ANC benoud raak oor die komende plaaslike verkiesing. Beide hierdie munisipaliteite kan vir die party verlore gaan.
Die VF Plus is baie positief oor so ʼn vooruitsig. Regerings van plaaslike eenheid, waarin een party nie sy wil op die res kan afdwing nie, kan die norm raak.
Intussen is die vraag waarom die LUR vir samewerkende regering, Bentley Vass, nog in sy pos is. Tydens sy termyn het talle munisipaliteite in die provinsie onwettige aanstellings gedoen en het infrastruktuur grootliks in duie gestort.
Die VF Plus reken dat dit nou tyd is vir Vass om loopbaanmoontlikhede buite die politiek te verken.


