Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Sestien Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders in Suid-Afrika is net ʼn pleister op ʼn omvattende sistemiese probleem

Die veldtog van Sestien Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders in Suid-Afrika is 349 dae te min en net ʼn pleister op ʼn omvattende sistemiese probleem wat die totale samelewing rig.

Daar was wel ʼn langsame verbetering in die harde statistiek van geweld teen vroue sedert die veldtog in 1991 begin het, maar die boodskap moet gevestig word dat hierdie euwel deurgaans bestry moet word, nie net sestien dae in ʼn jaar nie.

Sedert 1991 het die moordsyfer op vroue van 25 per 100 000 in 1999 afgeneem tot sowat 12 per 100 000 in 2009 waarna dit onveranderd gebly het.

Die realiteit is steeds dat 7 vroue elke dag vermoor word. Ses uit 10 hiervan is in die hande van ‘n man of ʼn manlike vriend of lewensmaat. Ewe kommerwekkend is die feit dat daar in minder as 1 uit 5 van hierdie gevalle ʼn skuldigbevinding verkry word.

Dit dui inderdaad daarop dat die land se strafregstelsel meer sal moet doen om by te dra tot die beskerming van vroue.

Dit is egter nie net die strafregstelsel wat moet verbeter nie. Die hele Suid-Afrika is misdaadsiek weens vergrype soos menseregteskendings, bedrog, korrupsie, gebrek aan ʼn politieke wil tot verbetering, selfdienende neigings, swak bestuur en leierskap wat verkies om te plunder eerder as om te bou.

Die grondliggende oorsake van hierdie siekte is ʼn swak ekonomie, werkloosheid, ʼn swak gesondheidsorg- en onderwysstelsel, swak dienslewering, swakker plaaslike regering en sosiale euwels soos drank- en dwelmmisbruik.

Ironies genoeg is dit van die land se mees weerlose mense wat aan die ontvangkant van hierdie probleme staan – sy vroue en kinders.

Geslagsgeweld is duidelik ‘n sistemiese probleem; dit is nie iets wat net die regstelsel of die gesondheidstelsel of beter polisiëring sal regmaak nie. Ook nie bewusmakingsveldtogte sonder daadwerklike optrede nie.

Voordat daar 30 jaar van demokratiese regte vir vroue gevier kan word, moet werkloosheid verminder sodat vroue hulself kan bemagtig. Dieselfde geld die onderwys- en gesondheidsorgstelsels.

Die polisie en maatskaplike dienste moet bekwaam raak sodat vroue veilig kan voel.

Net so moet mans bemagtig word met werk, basiese dienste vir eie werkskepping, behoorlike onderwys, gesondheidsorg en ekonomiese welvaart om hul waardigheid te herstel.

ʼn Gebrek hieraan is nou verweef met die sosiale siektes wat bydra tot die geslagsgeweld-pandemie. Hierdie is die sistemiese verandering wat nodig is en waar ware aktivisme moet begin om die land se vroue en kinders te beskerm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.