Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gauteng-waterkrisis: Ekurhuleni ook in beskuldigde bank

Die Ekurhuleni-metro staan ook in die beskuldigde bank as ʼn bydraer tot die huidige waterkrisis in Gauteng.

Luidens die metro se jongste water- en sanitasie-transformasiestrategie wat voor die raad gedien het, is die metro se infrastruktuurhernuwingskoers vir waternetwerke ʼn skokkende 0,05% per jaar.

Om betroubare watervoorsiening te handhaaf, is die beste algemene praktyk vir batevernuwing of opgradering ʼn jaarlikse koers van tussen 1 tot 2%.

Tans gaan 29,1% van al die water wat die metro aankoop van Randwater, verlore weens waterlekkasies, diefstal of infrastruktuur-ondoeltreffendheid nog voordat dit die inwoners se krane bereik.

In die jongste strategie is die mikpunt om die waterverliese teen 2030 af te bring tot 25%. Dit is onvoldoende.

Die teiken vir die infrastruktuurhernuwing van waternetwerke word gestel op 1,5% wat heeltemal te laag is om die vlakke van infrastruktuurverval aan te spreek en waterverliese te beperk.

Dit is duidelik dat Ekurhuleni sy sokkies sal moet optrek om die waterkrisis in Gauteng te help beredder. Waterbeperkings alleen gaan nie die krisis oplos nie.

Soos met die kragkrisis is die waterkrisis in Gauteng ʼn mensgemaakte probleem en munisipaliteite soos Ekurhuleni moet voor stok gekry word weens nalatigheid.

Die Grondwet verskans burgers se reg op toegang tot voldoende, skoon water. Hierdie reg vereis proaktiewe, volgehoue infrastruktuurinvestering en bestuur deur plaaslike owerhede.

Die VF Plus eis dat die metro sy infrastruktuurhernuwingskoers verhoog tot ten minste 2% om te verseker dat waterverliese tot die minimum beperk word en dat infrastruktuur aan toekomstige eise kan voldoen.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.