Die VF Plus se voorstelle aan die Ekurhuleni-metro om slim langtermynoplossings te implementeer om sy infrastruktuur te beveilig, val op dowe ore.
Tans probeer die metro se energiedepartement kraginfrastruktuur beskerm deur mini-substasies se hekke, dakke en deure toe te sweis om kabeldiefstal en vandalisering te voorkom. Dit is egter ondoeltreffend en die mini-substasies loop steeds deur.
Die VF Plus het al telkens voorgestel dat die metro ook plaaslike private sekuriteitsmaatskappye moet betrek om infrastruktuur te beskerm.
Dié maatskappye beskik oor die kundigheid en hulpbronne om vinnig op dié soort voorvalle te reageer.
Die metro se benadering is nie net duur nie, maar ook ondoeltreffend.
In Birchleigh, Kemptonpark, is sedert Januarie ses mini-substasies gevandaliseer en moes vervang word.
Een so ʼn mini-substasie se groothandelprys is sowat R300 000 en dan moet installasiewerk nog afgehandel word wat die totale prys vermeerder. Die party is van mening dat dit die metro baie minder sou kos om die mini substasies te bewaak.
Die inwoners van Ekurhuleni verdien proaktiewe en volhoubare oplossings om ononderbroke kragvoorsiening te verseker.


