Die VF Plus verwelkom die inhegtenisname van die bevelvoerder van die Norwood-polisiekantoor, kol. Logan Govender, verlede week.
Dit stuur ʼn sterk boodskap dat die polisie nie bo die wet verhewe is nie.
Die aanklagte teen Govender is bedrog, diefstal en dwarsboming van die gereg.
Dit spruit uit ʼn beweerde vals polisie-operasie waar glo beslag gelê is op sigarette ter waarde van R165 000. Die sigarette het na die sogenaamde operasie “verdwyn”.
Dit is ironies dat Govender aangekeer is terwyl hy ʼn vergadering oor misdaadbekamping in Soweto bygewoon het.
Die aanklagte is ʼn klad op die polisie se naam wat veronderstel is om toe te sien dat wet en orde gehandhaaf word.
Die VF Plus het ʼn beroep op die publiek en eerlike polisielede gedoen om hierdie soort misdadige aktiwiteite aan te meld en nie uit vrees vir vergelding stil te bly nie.


