Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus sal veg teen vernietiging van onvervangbare vleiland buite Kaapstad vir hoëdigtheid-behuisingsontwikkeling

‘n Bedreigde vleiland van 277 hektaar wat grens aan die Blaauwberg-natuurreservaat buite Kaapstad en wat verklaar is as ‘n Unesco-sleutelbiodiversiteitsgebied, is onder gevaar van ʼn moontlike hoëdigtheid-behuisingsontwikkeling deur die Stad Kaapstad.

Die gebied, wat tans nog in staatsbesit is, vorm deel van die Kaapse Weskus-biosfeerreservaat en is die tuiste van kritiek bedreigde ekosisteme, veelvuldige vleilande en onvervangbare biodiversiteit wat noodsaaklik is vir Suid-Afrika se nasionale bewaringsteikens.

Die vleiland (erf 1117) is ‘n kosbare natuurlike bate en die voortgesette voorstelle om dit te ontwikkel het reeds gelei tot ‘n vlaag van kritiek van bewaringsbewustes en lede van die plaaslike gemeenskap.

Meer as 600 inwoners het in ‘n openbare deelnameproses hul teenkanting teen die beoogde ontwikkeling uitgespreek.

Die VF Plus staan enige vorm van ontwikkeling op die grond ten sterkte teë en het reeds ‘n beroep op die Wes-Kaapse regering gedoen om in geheel weg te doen met die ontwikkelingsplan.

Die Wes-Kaap en veral die omgewing rondom Kaapstad ervaar jare reeds geweldige instroming en veral informele nedersettings is besig om vinnig alle beskikbare grond op te neem.

Die Stad kan eerder met werklike erns begin om hierdie ongebreidelde instroming stop te sit wat oor die laaste paar jaar besig is om ‘n sigbare impak op die gebied rondom Kaapstad te maak.

Die instroming is só erg dat die stad self in 2023 in ‘n verslag gesê het 53% van alle nuwe wonings in Kaapstad gaan teen 2043 informele strukture wees.

Die groter Blaauwberg-gebied is reeds aangewys as ‘n prioriteitsgebied vir die ontwikkeling van menslike nedersettings. Die omgewing, en veral onvervangbare biodiversiteitsgebiede, kan egter nie voor die voet vernietig word om plakkerskampe te vestig nie.

Die VF Plus is ook van mening dat die stad sy eie behuisingsbeleid hierdeur sou verontagsaam.

Dié beleid bepaal dat bekostigbare ontwikkelings goed geleë moet wees, naby openbare vervoer en ekonomiese geleenthede. Erf 1117 voldoen nie hieraan nie.

Die VF Plus se voorstel is dat Kaapstad wel die grond bekom, maar dat dit by die Blaauwberg-natuurreservaat gevoeg word. Daar is wel alternatiewe grond vir behuising beskikbaar.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.