Die VF Plus doen ʼn beroep op inwoners en grondeienaars in die landelike gebiede van Gauteng om hul paraatheid op te skerp ná die plaasaanval op mnr. Adriaan Vos buite Westonaria die nag van 16 Maart 2025.
Mnr. Vos is geskiet en ernstig gewond tydens die aanval en sy huis is boonop tot op die grond afgebrand.
Die VF Plus het mnr. Vos vandag op sy plaas ontmoet ná sy ontslag uit die Yusuf Dadoo-hospitaal in Krugersdorp gister.
Die party het ook met die polisiebevelvoerder van Westonaria, kol. Nash, ontmoet.
Die polisie het eers Sondag, 23 Maart, ʼn verklaring by mnr. Vos in die hospitaal afgeneem ná ingryping van die VF Plus.
Inwoners van landelike gebiede in Suid-Afrika en Gauteng is uitgelewer aan misdaad wat aangevuur word deur roekelose uitsprake van politici om hul agendas te pas.
Die polisie is onderbefonds en beskik nie oor die vermoë om effektief op misdaad, veral in landelike gebiede, te reageer nie.
Inwoners moet hul grond en veiligheid self binne die raamwerk van die wet beskerm en pro-aktief optree deur aan te sluit by landelike veiligheidsforums.


