Die VF Plus verwerp die voorgestelde watertariefverhoging van 11% vir die Mangaung-metro ten sterkste.
Dit volg nadat dié verhoging voorgestel is in die konsepbegroting vir die 2025/26 finansiële jaar.
Hierdie verhoging is aansienlik hoër as die huidige inflasiekoers van 3,08%.
Huishoudings en ondernemings in die metro gaan reeds gebuk onder finansiële druk met hoë lewenskostes en uitgawes.
Die VF Plus is dit eens dat die metro alles in sy vermoë moet doen om die verhoging van tariewe te voorkom en onnodige besteding moet beperk word.
Luidens die voorlegging van die hoof finansiële beampte, me. Zuziwe L Thekisho, aan die raad, het sy onder meer erken dat faktore soos die lae invorderingskoers, hoë werknemersonkoste, swak beplanning met besteding van toelae en ’n gebrek aan algemene bestuurders in die water- en sanitasiedirektoraat van die belangrikste kwessies is wat die voorgestelde begroting beïnvloed.
Die belastingbetaler kan nie gestraf word met hierdie tariefverhoging weens die swak finansiële dissipline van die ANC-beheerde metro nie.
Buitensporige tariefverhogings is nie die antwoord op jarelange ANC-wanbestuur nie.
Die party doen ’n beroep op die inwoners en belastingbetalers van die Mangaung-metro om seker te maak dat hulle deelneem en beswaar maak teen hierdie verhoging gedurende die komende openbare deelnameproses waar die konsepbegroting aan inwoners voorgelê gaan word.
Die VF Plus sal inwoners op hoogte hou oor wanneer hierdie openbare vergaderings plaasvind.


