Die VF Plus gaan na die verkiesing 'n veldtog van stapel stuur om die drie Gautengse metro’s te oorreed om 'n formele dispuut te verklaar teen die nasionale regering oor die e-tolstelsel.
Aangesien die VF Plus ongetwyfeld gaan groei in al drie metro’s en of deel van 'n koalisieregering gaan uitmaak of 'n sterker en groter opposisie sal wees, sal die party ideaal geposisioneer wees om die metro’s te beïnvloed om die dapper stap te neem om te eis dat die e-tolstelsel afgeskaf word.
Die stelsel vleg deur tussen die drie metro’s en daarom sal die plaaslike regerings die reg hê om 'n formele dispuut met die nasionale regering te verklaar in terme van die Interregeringsverhoudinge-raamwerkwet (13 van 2005).
Indien die nasionale regering nie gehoor gee nie, kan 'n formele dispuut verklaar word ingevolge die tersaaklike wetgewing en indien geen oplossing gevind word nie, sal die metro’s 'n hofaansoek kan bring om die e-tolstelsel af te skaf.
Op hierdie wyse tree die plaaslike regering in die bresse vir die groter publiek wat lankal die gewraakte e-tolstelsel met minagting verwerp het.
Die VF Plus werk sedert 2012 onverpoosd om die e-tolstelsel af te skaf. Indien die party deel word van 'n koalisie in enige van die metro’s, sal daar gesorg word dat die nuwe koalisie-regering stappe neem om 'n dispuut te verklaar.
Indien die VF Plus in 'n betrokke metro in opposisie sou bly, sal die party steeds hard werk om die nuwe plaaslike regering te oortuig om 'n dispuut te verklaar ter wille van die ekonomiese oorlewing van die inwoners.
Die VF Plus bly verbind tot die stryd om e-tol finaal tot 'n einde te bring.