Die VF Plus het vandag in ‘n dringende skrywe aan die burgemeester van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit, me. Mapule Mataboge, antwoorde geëis nadat inligting bekom is dat die koste van ‘n gala-dinee vir raadslede ‘n astronomiese R105 750 sal beloop. Hierdie bedrag sluit die koste van alkoholiese verversings uit waarvoor belastingbetalers ook pa sal moet staan.
Raadslede het gister uit die bloute ‘n uitnodiging na die dinee wat vanaand plaasvind, ontvang. Die uitnodiging lui onder meer dat vorige burgemeesters, speakers en hoofswepe ook uitgenooi is om “glans” aan die geleentheid te verleen.
In die skrywe het die VF Plus ook geëis dat die burgemeester voor 15:00 vandag moet aandui uit watter begroting die kostes vir die dinee verhaal sal word en wie daarvoor toestemming gegee het.
Die raad het geensins oor so ‘n uitgawe gestem nie. Die kort kennisgewing vir die deftige onthaal wil dit ook laat voorkom of die dinee gereël is as ‘n partytjie vir ANC-raadslede en sy kaders om die ANC se dienstermyn te vier.
Die ANC in JB Marks het definitief niks om te vier nie. Dienslewering en infrastruktuur het in die afgelope vyf jaar byna ineengestort en ‘n eens trotse munisipaliteit het deurlopend gesteier onder opeenvolgende finansiële- en korrupsieskandale.
Hierdie skandelike optrede van die ANC in JB Marks bewys weereens sy minagting vir die belange en behoeftes van die inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp.
Die feit dat die ANC voortgaan met sy strooptog ten spyte van verskeie korrupsie-ondersoeke en hangende kriminele sake teen amptenare en ANC-politici, dui op arrogansie in die skynbare geloof dat hulle bo die wet verhewe is.
Die VF Plus veroordeel die uitspattigheid en sal nie meedoen aan die plundering van belastingbetalersgeld vir eie plesier nie.
Die VF Plus sal die aangeleentheid onder die aandag van die ouditeur-generaal (OG) bring en daarop aandring dat dit deeglik ondersoek word.
Navrae: 082 415 8628