fbpx
Vryheidsfront Plus

Ramaphosa moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir jongste Eskom-fiasko

President Cyril Ramaphosa moet die volle verantwoordelikheid aanvaar vir die jongste Eskom-fiasko wat die land opnuut in ‘n donker beurtkragkrisis gedompel het.

Pres. Ramaphosa is in Desember 2014 aangestel as voorsitter van ‘n spesiale Eskom-regrukkomitee bekend as die Eskom-oorlogkamer om Eskom reg te ruk en die gevaar van toekomstige beurtkrag uit te skakel.

In dié tyd het bewerings van erge korrupsie met die bou van die Medupi- en Kusile-kragstasies ook aan die lig gekom.

In 2019 het die president op ‘n vraag van myself in die parlement geantwoord dat hy die “oorlogkamer” terugoorhandig het aan Eskom aangesien die “onmiddellike gevaar” van beurtkrag afgeweer was. Dit was oënskynlik die einde van die regrukpoging.

Met beurtkrag pluk Suid-Afrika die wrang vrug van regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en die regering erken nou dat kaderontplooiing onbevoegdheid meegebring het.

SEB het groot skade ook by Eskom veroorsaak waar pryse met verkryging buitensporig gelaai is.

Kusile en Medupi is juis gebou om kragtekorte uit te skakel, maar dié kragstasies se toekomstige effektiwiteit is van die begin deur ongerymdhede ondermyn.

Pres. Ramaphosa moet daarom die volle verantwoordelikheid neem. Hy het voorheen misluk met ‘n volhoubare regrukplan en as president faal hy nou weer om die probleme by Eskom te laat regstel.

Die kragonderbrekings het ‘n enorme effek op sake-ondernemings wat reeds in ‘n krisis verkeer weens die pandemie-inperkingsmaatreëls. Dit raak ook matriekleerlinge wat moet studeer vir hul eindeksamen.

Eskom het in duie gestort terwyl die regering bewus was van die oorsake soos RA en SEB. Tog is daar op dieselfde trant voortgegaan terwyl Eskom sienderoë vernietig is.

Die regering het ook versuim om alternatiewe kragbronne beskikbaar te stel waar private kragverskaffers bereid was om te belê in die kragnetwerk. Weens ANC-ideologie is dit van die hand gewys.

Die VF Plus se mening is dat Eskom net reggeruk kan word indien dit onmiddellik geprivatiseer word. Dit kan nie langer uitgestel word nie.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.