Die permanente aanstelling van 497 kontrakwerkers by die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit (Kimberley, Ritchie en Riverton), is onbekostigbaar en gaan ernstige nagevolge inhou.
Luidens ‘n berig in Netwerk24 vandag (497 kontrakwerkers van Sol Plaatje permanent aangestel) het die Suid Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) die permanente aanstelling van kontrakwerkers by die Sol Plaatje-munisipaliteit verwelkom en as ’n historiese oorwinning beskryf.
Dit blyk egter dat hierdie besluit nog nie deur die raad goedgekeur is nie. Indien hierdie aksie nie bekragtig kan word nie, kan dit lei tot grootskaalse werkersonrus.
Alhoewel dit onredelik is om werkers vir jare aan te hou op kontrakbasis, is die finansiële impak op die munisipaliteit massief aangesien daar nou heel moontlik terugwerkende voordele ook ter sprake sal wees.
Sol Plaatje is reeds al finansieel in die moeilikheid met gebrekkige kontantvloei wat meestal gefinansier word uit geld wat na Eskom en die departement van water en sanitasie moes gaan.
Om kort voor ’n verkiesing honderde vaste poste te skep en personeellede aan te stel, is nie tot voordeel van die belastingbetaler nie.
Daar is reeds sprake dat die uitgebreide openbare werkprogram se werkers by Sol Plaatje ook permanente aanstellings wil hê en ‘n president van hierdie aanstellings kan lei tot onvolhoubare werkskepping op openbare vlak.
Daar moet in die algemeen gewaak word teen ‘n oorvloed van werkskepping by ANC-beheerde munisipaliteite kort voor die verkiesing. Soos met Sol Plaatje sal dit onbekostigbaar wees.
Munisipaliteite onder die ANC is reeds grotendeels bankrot en die ANC mag nie toegelaat word om belastinggeld te gebruik om op hierdie wyse steunwerwing te doen nie.


