Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus nie seker of huur van 145 nuwe voertuie Emfuleni se dienslewering sal verbeter nie

Die VF Plus is nie daarvan oortuig dat die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se gehuurde vloot van 145 nuwe voertuie die diensleweringskrisis gaan verbeter nie.

Die voertuie is nodig, maar die vrees bestaan dat dit bloot ’n verkiesingsfoefie van die ANC-geleide administrasie is, minder as ’n jaar voor die 2026-munisipale verkiesing.

Hoewel enige poging om dienslewering te verbeter verwelkom word, veral by openbare veiligheid, vullisverwydering, elektrisiteit en infrastruktuur, moet dit reg bestuur word en tot tasbare, blywende verbetering lei.

In die verlede het diensverskaffers dikwels voertuie teruggeneem omdat die munisipaliteit nie sy huurverpligtinge nagekom het nie.

Inwoners van Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark en Vereeniging wag al jare op betroubare dienslewering, skoner strate, werkende straatligte en vinniger reaksie op klagtes.

Die eerste oorhandiging op 16 Februarie 2026 het 50 voertuie ingesluit (25 diensvoertuie, 15 bakkies en 10 sedans) aan die departement van openbare veiligheid. Dit kan sigbare polisiëring versterk en moontlik misdaad bekamp.

Op 17 Februarie volg nog 30 voertuie (10 bakkies en 20 sedans) vir die vlootdepartement, met verdere verspreiding teen einde Februarie.

Die munisipaliteit beplan ook om in Maart 15 nuwe kompakteerders en 10 skip-laaiers beskikbaar te stel, asook 10 voertuie met hyskrane vir die elektrisiteitsdepartement om straatligte en hoëmasligte te herstel.

Tans is daar slegs sewe werkbare kompakteerders wat gehuur is van die Gautengse provinsie, twee storttrokke en een laaigraaf.

Die burgemeester het verder beloof dat 21 stukkende kompakteerders herstel sal word, met die doel om teen einde April 36 werkende kompakteerders te hê.

Die VF Plus meen die munisipaliteit moes lankal die bestaande kompakteerders herstel en die nodige masjinerie gehuur het.

Die vloot word deur ’n huurkontrak van 36-maande met volledige instandhouding verkry. Hoewel dit groot kapitaaluitgawes vermy, moet die koste en kontrakvoorwaardes volledig en deursigtig wees.

Emfuleni se ernstige finansiële uitdagings en geskiedenis van swak bestuur en gekwalifiseerde oudits plaas ’n groter verantwoordelikheid op die administrasie om hierdie projek professioneel en kostedoeltreffend te bestuur.

Dienslewering mag nie verkiesingsgedrewe wees nie.

Die VF Plus sal streng toesig hou en die administrasie verantwoordbaar hou om te verseker dat hierdie nuwe hulpbronne nie as ’n foefie gebruik word nie, maar werklik tot meetbare verbeterings in dienslewering lei.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.