Die Msukaligwa-plaaslike munisipaliteit (Breyten, Chrissiesmeer, Davel, Ermelo, Lothair) se 2024/25-finansiële verslag van die ouditeur-generaal (OG) skets ʼn onstellende prentjie van volgehoue wanbestuur en onbevoegdheid.
Vir die derde agtereenvolgende jaar het die munisipaliteit ’n gekwalifiseerde ouditverslag ontvang – ’n status wat sedert 2022 onveranderd bly.
Wat die situasie vererger, is dat dieselfde ernstige bevindinge al vir vier jaar herhaal word, sonder enige daadwerklike regstellende maatreëls of nuwe beleid om herhaling te voorkom. Dieselfde finansiële en bestuursfoute word jaar ná jaar herhaal.
Die kernbevindinge sluit in:
• Waterverliese van 66%
• Kragverliese van 61%
• 72% van munisipale rekeninge word nie ingevorder nie
• Geen verbetering in prestasie-inligting nie
• Geen aksieplan om ekonomiese groei te bevorder nie
• Geen gevolgbestuur vir wangedrag nie
• Onvoldoende oorsig oor finansiële state en geen verbetering in kwaliteit nie
Hierdie volgehoue mislukkings dui op politieke onwilligheid eerder as ’n gebrek aan kennis. Die bestuur herhaal dieselfde foute, maar verwag steeds ’n ander uitkoms.
Ná vier jaar is Msukaligwa se begroting steeds onbefonds, ondanks herhaalde waarskuwings van die VF Plus dat die huidige strategie om inkomste te verbeter, nie werk nie en geen werklike inkomste-groei tot gevolg het nie.
Die strategiese beplanningskomitee, wat veronderstel is om oplossings te ontwikkel, toon self ook ’n ontstellende vlak van onbevoegdheid. Die enorme verlies aan water en elektrisiteit is finansieel onvolhoubaar en ’n direkte bedreiging vir dienslewering, tog versuim die munisipaliteit om basiese verordeninge en beheermaatreëls in plek te stel ondanks herhaalde versoeke van die VF Plus.
Die gebrek aan gevolgebestuur en voorkomende beleid bevestig dat daar geen werklike politieke wil is om die krisis aan te spreek nie.
Die ANC-beheerde raad, waar ANC-raadslede die kworum oorheers, ignoreer konstruktiewe voorstelle van opposisiepartye. Hierdie meerderheidsmag word nie gebruik om oplossings te vind nie, maar om verantwoordbaarheid te vermy.
Hierdie bestuurwyse is vernietigend vir alle inwoners, ondernemings en die ekonomiese toekoms van Msukaligwa. Leë retoriek sonder aksie verbeter nie dienslewering nie en herstel nie vertroue nie.
Die VF Plus duld nie hierdie vlak van wanbestuur, politieke onwilligheid en minagting vir inwoners nie. Verantwoordbaarheid, bekwame bestuur en daadwerklike hervorming is noodsaaklik vir die munisipaliteit se oorlewing en vooruitgang.
Msukaligwa verdien beter as die ANC.


