Die VF Plus het die bekende regsman Willie Spies vandag as sy burgemeesterskandidaat vir die Tshwane-metro vir die 2026 -plaaslike regeringsverkiesing aangekondig. Grandi Theunissen, ervare raadslid en kundige van plaaslike regering, sal saam met hom die VF Plus se veldtog lei.
Saam vorm hulle ’n ervare en kundige span wat vasbeslote is om die hoofstad weer in ere te herstel.
Met sy bekendstelling het Willie gesê sy hoop is realisties en hy glo dat samewerking deur politici, die sakesektor, burgerlike organisasies en die publiek, wel die haas onmoontlike kan vermag deur die metro uit die as te laat herrys.
Hy sê sy terugkeer na die politiek ná sestien jaar was vir hom emosioneel maar opwindend en dat hy na die uitdaging uitsien.
Hy woon self al 50 jaar in Pretoria en sy prokureursfirma, Hurter Spies, het ‘n bekende naam in Suid-Afrika geword vanweë die reuse werk wat hy op die gebied van burgerlike litigasie verrig het.
Willie was van 2004 tot 2009 ’n VF Plus-parlementslid en het AfriForum sedertdien suksesvol in talle hoëprofiel-hofsake verteenwoordig.
Onlangs het hy sy rol as uitvoerende voorsitter van PretoriaFM neergelê om heeltyds sy aandag aan die VF Plus en die Tshwane-burgemeestersveldtog te wy.
Die VF Plus het geen twyfel nie dat Willie die ideale kandidaat vir Tshwane is, juis omdat hy die metro se uitdagings uit eie ervaring ken én verstaan.
Dit sluit in praktiese probleme wat die maaksel is van wanbestuur, korrupsie en onbevoegdheid soos kragonderbrekings, waterkrisisse, vervalle infrastruktuur, en dienslewering wat in duie stort.
Hy ken die frustrasie van inwoners wat belasting betaal maar geen waarde of diens daarvoor ontvang nie.
Die Tshwane-metro is ’n strategiese spilpunt vir die VF Plus en die tyd het aangebreek om ʼn stabiele, werkende koalisie te bou om die metro weer funksioneel te maak.
Die VF Plus doen ’n beroep op alle inwoners van Tshwane om Willie Spies en Grandi Theunissen te ondersteun en om saam met die VF Plus ‘n wenspan te bou in die belang van elke inwoner van dié eens trotse juweelstad van Afrika.
Pretoria verdien beter as die huidige verval en saam met die VF Plus kan dit gedoen word.


