Die VF Plus is bekommerd oor die toestand van kritieke infrastruktuur in die Ba-Phalaborwa-plaaslike munisipaliteit (Phalaborwa, Lulekani, Boelang) ná die verwoestende Januarie-vloede.
Die VF Plus-LPW en provinsiale leier vir Limpopo, mnr. André Moss, vergesel van die plaaslike VF Plus-raadslid, Giel van Niekerk en voornemende kandidaat, me. Jane Williamson, het eerstehands gesien hoe hierdie beskadigde infrastruktuur die streek se lewensaar afgesny het.
Omliggende gebiede, sowel as die dorp self, is reeds vir langer as ‘n maand sonder enige watertoevoer.
Benewens die skade aan die hooflyne, word Phalaborwa en die naburige woonbuurte geteister met pype wat bars en waterlekkasies wat feitlik oral voorkom weens ‘n chroniese gebrek aan infrastruktuurbeplanning en behoorlike instandhouding.
Hierdie verval is die direkte gevolg van jarelange verwaarlosing, wat beteken dat selfs die water wat wel die stelsel bereik, verlore gaan voordat dit by die verbruiker uitkom.
Die party het ‘n formele verslag van Lepelle Northern Water verkry wat bevestig dat die 546mm-grootmaatlyn in die Selati-rivier weggespoel het en steeds buite werking is ondanks beweerde noodherstelwerk.
Alhoewel ‘n 560mm-lyn tydelik herstel is om die dorp se watertoevoer te probeer stabiliseer, het dit deurlopende foute en ses nuwe lekkasies ontwikkel wat ‘n onmiddellike staking van alle pompoperasies genoodsaak het.
Operasionele vermoëns is verder gekniehalter weens die verwydering van die 6AB-pompstel, waarvan een eenheid as onherstelbaar verklaar is en die vervanging daarvan na verwagting tot twintig werksweke sal duur.
Kragonderbrekings by die Lulekani-aanjaerstasie het tot twee uitgebrande motors gelei, wat die stelsel dwing om op ‘n omleidingstelsel staat te maak wat aansienlik minder water as die normale daaglikse kapasiteit lewer.
Die Boelang 250mm-aftaklyn is ook steeds gekompromitteer nadat dit tydens die vloede weggespoel het, wat enige hoop op ‘n vinnige herstel van watersekuriteit vir die afsienbare toekoms demp.
Wat die VF Plus die meeste bekommer, is dat die uitvoerende hoof van Lepelle Northern Water, dr. Cornelius Ruiters, versuim het om enige omvattende langtermynplan vir die totale heropbou van die Selatirivier-infrastruktuur uiteen te sit.
Hierdie ooglopende versuim laat die VF Plus met die duidelike indruk dat geen sodanige plan bestaan nie, wat beteken dat die inwoners van Phalaborwa moontlik nog maande lank met droë krane sal moet oorleef.
Die VF Plus doen ‘n beroep op inwoners en sake-eienaars om die erns van hierdie feite te besef en dringend alternatiewe planne te oorweeg om hul eie watervoorraad te beveilig te midde van die staat se onvermoë.
As ‘n saak van dringende belang stel die VF Plus die stigting van ‘n multi-sektorale taakspan voor, bestaande uit die gemeenskap, sake-eienaars, myne en die regering, om selfbeskikking oor water in Phalaborwa te bewerkstellig.
Inwoners word aangemoedig om proaktief te kyk na gesamentlike eienaarskap van watervoorsieningskemas en gemeenskapsbestuurde boorgate om onafhanklik van falende munisipale en provinsiale stelsels te word.
Die VF Plus sal voortgaan om druk op die owerhede uit te oefen, maar wil beklemtoon dat die pad na sekuriteit lê in gemeenskapsgedrewe veerkragtigheid en die wegdoen met afhanklikheid van onbevoegde staatsentiteite.


