Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Emakhazeni moet verduidelik oor slimmeter-chaos

Inwoners van die Emakhazeni-plaaslike munisipaliteit (Belfast, Machadodorp, Dullstroom, Waterval Boven) ervaar ernstige finansiële en ander ontberings weens die gebrekkige uitrol van nuwe slimkragmeters.

Talle klagtes bereik die VF Plus oor voorafbetaalde eenhede wat onverklaarbaar vinnig opraak en kragtoevoer wat skielik en sonder waarskuwing afgesny word.

Hierdie probleme tref veral lae- en middelinkomste-huishoudings wat reeds onder druk is en nou boonop sonder betroubare elektrisiteit sit.

Wat veronderstel was om ’n moderne diensleweringsprojek te wees wat kragdiefstal sou bekamp, het nou ontaard in ’n bron van onsekerheid, frustrasie en onnodige swaarkry vir die gemeenskap.

Die VF Plus is bekommerd oor die integriteit van die slimmeterstelsel. In sekere gebiede vier onwettige oorbruggings en meter-manipulering steeds hoogty. Die ironie is dat die nuwe tegnologie, wat juis kragdiefstal móét stop, nou daartoe lei dat wetsgehoorsame inwoners onregverdig gestraf word.

Hulle betaal indirek die prys vir die diewe se optrede deur hoër verbruik, skielike afskakelings en ’n stelsel wat skynbaar nie onderskei tussen eerlike verbruikers en oortreders nie.

Teen hierdie agtergrond het die VF Plus ’n formele versoek om volledige inligting gerig aan die speaker van die Nkangala-distriksmunisipaliteit, mnr. Kabelo Jonas Boshomane.

Die party dring aan op duidelikheid oor watter maatskappy of diensverskaffer die slimmeters gelewer en geïnstalleer het, asook ’n volledige uiteensetting van die tender- en verkrygingsproses om te verseker dat dit korrek en deursigtig was.

Daar moet ook openheid wees oor die totale kontrakwaarde en die bron van befondsing. Net so belangrik is dat die munisipaliteit uiteensit watter maatreëls reeds bestaan of beplan word om kragdiefstal en meter-manipulering werklik te bekamp sonder om eerlike inwoners verder te benadeel.

Dit is onaanvaarbaar dat ’n stelsel wat veronderstel is om billikheid te bevorder, nou juis die teenoorgestelde effek het.

Die VF Plus sal nie rus voordat daar deursigtigheid, aanspreeklikheid en regverdige oplossings is nie.

Die party sal die gemeenskap op hoogte hou van verdere ontwikkelings en sal bly veg vir ’n stelsel wat eerlike inwoners beskerm, nie straf nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.