Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Herhalende rioolstortings: Pinehaven-infrastruktuur faal weer

Die Pinehaven-rioolpompstasie in die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) is vinnig besig om ’n volskaalse gesondheids- en omgewingsramp te word.

Binne slegs ’n week het die stasie twee keer oorgeloop nadat twee van die drie pompe onklaar geraak het. Die munisipaliteit pomp tans die riool uit en vervoer dit na die Percy Steward-pompstasie. Die beskadigde pompe word weggestuur vir herstelwerk wat weke gaan neem. Daarby is sekere pypleidings ook beskadig.

Intussen word persele in Pinehaven gedurig oorstroom tydens hierdie probleme, met rioolwater wat in huise loop.

Dit is geensins ’n nuwe verskynsel nie. Pinehaven sukkel al jare met herhalende oorlope wat lei tot ernstige rioolbesoedeling van vleilande, dreine en grondwater. Inwoners leef daagliks met ondraaglike stank en die gevaar van siekteverspreiding.

Die huidige “lapwerk”-benadering – ’n noodpomp hier, ’n vinnige herstel daar, bied geen volhoubare oplossing nie. Dit verdoesel bloot die onderliggende verval van die infrastruktuur en veroorsaak dat dieselfde krisis weer en weer opvlam.

Die VF Plus het die saak op die agenda geplaas van die oorsigkomitee vir water-, krag- en rioolnetwerke en dring daarop aan dat die munisipaliteit onmiddellik ingryp deur pompe en pypleidings óf te vervang óf ordentlik te herstel en dat ’n volledige ondersoek gedoen word na die oorsake van die herhalende faling.

Net so noodsaaklik is ’n langtermyn-opgradering van die stasie om te verseker dat toekomstige oorlope voorkom word.

Tydelike lapwerk en noodmaatreëls kan eenvoudig nie meer geduld word nie.

Die VF Plus sal die situasie dophou en die gemeenskap op hoogte hou van verdere verwikkelinge.

Inwoners se gesondheid en die beskerming van die omgewing moet altyd ’n prioriteit bly.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.