Die sluiting van die Waltloo-oorlaaistasie vir tuinvullis in Eersterust, Pretoria, het ernstige nadelige gevolge en moedig onwettige vullisstorting aan.
Die VF Plus het dié terrein na verskeie klagtes van inwoners en eienaars van tuindienste besoek.
Tydens die besoek is werkers in oranje uniforms onder ’n boom gevind wat sit en gesels, terwyl die hek met klippe en houtstompe toegepak is. Niemand is ingelaat nie.
Die oorlaaistasie is klaarblyklik gesluit omdat die laaigraaf (TLB) buite werking is.
Hierdie sluiting dwing inwoners nou om kilometers verder te ry en hul tuinvullis by die Menlopark- en Magalieskruin-oorlaaistasies af te laai.
Inwoners mag tot 1,3 ton huishoudelike afval en tuinvullis gratis by die onderskeie oorlaaistasies aflaai. Vir afval van meer as 1,3 ton word ‘n fooi van R230 per ton gehef.
’n Oorlaaistasie moet te alle tye toeganklik vir die publiek wees, aangesien die metro inwoners juis aanmoedig om van hierdie dienste gebruik te maak om onwettige storting te voorkom.
Die VF Plus het ’n skrywe aan die burgemeesterskomiteelid vir die departement van omgewingsake en landbou, Obakeng Ramabobu, gerig waarin die party versoek dat die Waltloo-oorlaaistasie onmiddellik vir die publiek heropen word.
Die stukkende laaigraaf moet sonder meer herstel word en een moet tydelik gehuur of geleen word totdat laaigraaf herstel is. Dit is bloot onaanvaarbaar om so ‘n belangrike diens bloot te staak sonder ‘n werklik geldige rede.
Die party sal die situasie noukeurig dophou en druk op die Tshwane-metro uitoefen totdat die Waltloo-oorlaaistasie weer vir die publiek oop is.


