Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Net soos met Zuma se staatsrede in 2014 probeer pres. Ramaphosa om ‘n “goeie storie” te vertel terwyl land verval

President Cyril Ramaphosa het vanaand ‘n blaadjie uit die 2014-staatsrede van oud-pres. Jakob Zuma geneem deur te spog oor die “goeie storie” van die toestand waarin die land verkeer.

Pres. Ramaphosa het sy boodskap gelewer as president van Suid-Afrika, maar hy is steeds president van die ANC. En oral waar sy party regeer in rade, provinsies en metro’s, getuig die werklikheid van die “slegte storie”.

Soos die feit dat dele van Johannesburg, ook genoem die rykste stad in Afrika, sonder water sit. Na jare van regeringsingryping by gefaalde rade sonder enige beterskap, is die president se uitlatings hieroor sonder oortuiging.

Dit wys hoe ver pres. Ramaphosa van die werklikheid verwyder is. Die waarheid is dat Suid-Afrika se ekonomie en samelewing in ‘n diep krisis verkeer.

Deur te spog oor enkele aspekte soos kredietgraderings, skuldvermindering, kortstondige, beter kraglewering en die sterkte van die rand, is misleidend en ontken die realiteit.

Suid-Afrika se ekonomie het lank reeds tot stilstand gekom. Volgens die IMF en plaaslike ontleders, was die BBP-groei in 2025 slegs 1,3%, met ‘n geprojekteerde 1,4% vir vanjaar.

Dit is ver onder die nodige 3-5% om werkloosheid te bekamp, en word grootliks toegeskryf aan skadelike beleid soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), wat beleggers verdryf en werkskepping ondermyn.

Werkloosheid is op rekordvlakke, met ‘n amptelike syfer van 31,9% in die derde kwartaal van 2025 en ‘n verwagte toename tot 32% in 2026. Jeugwerkloosheid staan op 44%, wat miljoene jongmense sonder hoop laat.

Hierdie krisis word vererger deur ‘n stortvloed onwettige immigrante wat oor die land se poreuse grense stroom. Daar is tans na raming tussen twee- en viermiljoen ongedokumenteerde immigrante in die land wat enorme druk op hulpbronne, die ekonomie en munisipaliteite plaas.

Munisipaliteite stort toenemend in duie en meer as 250 het ernstige skuldprobleme. Skuld aan Eskom oorskry R100 miljard, dienslewering kom tot stilstand en inwoners ly onder swak infrastruktuur en korrupsie.

Op internasionale vlak het Suid-Afrika se verhouding met die VSA ‘n laagtepunt bereik. Die Trump-administrasie het die 2025 G20-beraad in Johannesburg geboikot en het Suid-Afrika nie genooi na die beraad in 2026 nie.

Die Amerikaanse kongres hersien handelsbande tussen die twee lande, met moontlike sanksies weens / Suid-Afrika se alliansies met China, Rusland en Iran.

Terselfdertyd is Suid-Afrika openlik vyandig teenoor Israel, een van Amerika se grootste bondgenote. Israel se voormalige saakgelastigde na Suid-Afrika, mnr. Ariel Seidman, is onlangs persona non grata verklaar en moes die land binne 72 uur verlaat te midde van reeds gespanne betrekkings tussen die lande.

Die bek-en-klouseer-uitbraak illustreer die regering se wydlopende onbeholpenheid met die epidemie wat reeds na agt provinsies versprei het en in een van die grootste landbou-krisisse in die land se geskiedenis ontaard het.

Die president se uitlatings hieroor het bykans meer onsekerheid geskep oor die beskikbaarstelling van entmiddels as wat daar was. Hy volstaan bloot by die landboudepartement se plan wat tot nou toe misluk het.

Die VF Plus sou wou hoor dat Suid-Afrika hom gaan herposisioneer in ‘n snel veranderende geopolitieke wêreld, oor dringende, tasbare optrede teen bek-en-klouseer, ingryping om die polisie van korrupsie te suiwer en die bereidwilligheid om weg te beweeg van swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

Daarvan het niks van gekom nie. Die president se gebruik van struggle-simboliek om sy toespraak af te skop, was die voorspel tot ‘n poging om die mislukkings van die ANC oor 32 jaar te verbloem.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.