‘n Lewensbedreigende waterkrisis is aan die ontwikkel in die westelike Kalahari, met net genoeg water om mens en dier vir nog sowat twee dae aan die lewe te hou.
Die Kalahari-Wes Waterraad pomp water vanaf die Dawid Kruiper-plaaslike munisipaliteit se waterwerke in Upington. Dit bedien die gedeeltes noord en wes van Upington, tot by Noenieput en Mier. Dit behels ‘n pypleiding van sowat 1 475 km.
Die oorsprong van die huidige krisis is Dawid Kruiper se pompstasie wat nie werk nie. Tydelike pompe met dieselenjins is aangebring, maar kan nie al die pypleidings wat daarvan afhanklik is, bedien nie.
Die Kalahari-Wes pypleiding moet ten minste vir 24 uur op ‘n slag onder druk bly, om water tot by al die punte uit te bring. Daarmee kan opgaartenks met ‘n dag of twee se voorraad gevul word. Tans is voorsiening egter onderbroke en sekere dele kry vir dae lank al geen water nie.
Kenmerkend van die Kalahari is die afwesigheid van oppervlakwater. Selfs grondwater is baie skaars en waar dit bestaan, is dit baie diep onder die grond en buitengewoon brak.
Die krisis raak105 plase met 140 boere waarvan 40 opkomend is. Wat vee betref, word 38 000 geraak. ‘n Totale ekonomie van R1,5 miljard kan uitgewis word.
Daar is wel tans planne om die krisis te verlig totdat die gebreekte pompe volgende week terug behoort te wees.
Die VF Plus doen ‘n beroep op die minister van water en sanitasie, me. Penny Majodina, om dringend in te gryp. Dit kan mens en dier van noodlottige watertekorte, wat binne dae kan intree, red.
Hierdie is ‘n ontluikende krisis en die VF Plus hou dit steeds dop.


