Gauteng se voortslepende waterkrisis is nie bloot die gevolg van beperkte bronne nie, maar van sistemiese wanbestuur, swak beplanning en gebrekkige instandhouding van infrastruktuur.
Rand Water is gelisensieer om ’n bepaalde maksimum hoeveelheid water te voorsien. Wanneer daardie limiet bereik word, kan toevoer nie eenvoudig verhoog word sonder regulatoriese- en infrastruktuuraanpassings nie.
Dit plaas ’n ernstige verantwoordelikheid op munisipaliteite om hul geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP’s) realisties te belyn met werklike kapasiteit en toekomstige groei.
Die vraag is of hierdie beplanning in plek en voldoende is en of dit betyds en behoorlik met Rand Water gekommunikeer word sodat kapasiteitsbehoeftes vooruit beplan kan word.
Verder is dit onaanvaarbaar dat enorme volumes water verlore gaan weens lekkasies, verouderde pype en swak onderhoud.
Die afmetings van watervermorsing in sommige munisipaliteite is op kommerwekkende vlakke. Dit beteken dat inwoners waterbeperkings moet verduur terwyl miljoene liters letterlik in die grond wegsyfer.
Rand Water voorsien boonop nie slegs water aan Gauteng nie, maar ook aan gedeeltes van Noordwes, Vrystaat en Mpumalanga. Die druk op die stelsel is dus groter as wat dikwels erken word, wat geïntegreerde provinsiale en interprovinsiale beplanning noodsaak.
Teen hierdie agtergrond is die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, se ligsinnige aanmerking dat hy self genoodsaak is om by ’n hotel te gaan stort, uiters onsensitief en wys dat hy uit voeling is met die werklikheid waaronder die provinsie se inwoners gebuk gaan.
Hierdie opmerking onderstreep presies hoe ver politieke leierskap tans verwyder is van die daaglikse lyding van mense wat nie sulke luukse opsies het nie.
Gauteng benodig dringende infrastruktuur-opgraderings, streng waterverliesbeheer, beter koördinering met Rand Water en eerlike politieke leiding. Die tyd vir verskonings is verby. Inwoners verdien betroubare basiese dienste.
Die departementele en politieke hoofde van die ANC-geleide provinsie en munisipaliteite moet tot verantwoording geroep word en verwyder word met die 2026-plaaslike regeringsverkiesing.
Die nasionale departemente vir water en sanitasie en samewerkende regering en tradisionele sake behoort op ‘n dringende basis in te gryp waar die provinsie versuim om gemeenskappe by te staan.


