Mpumalanga se LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Ntshalintshali, het na aanleiding van ‘n lidverklaring van die VF Plus onderneem om die lot van die gestremde jeug in die provinsie te ondersoek.
Die VF Plus het gevra vir ingryping in die lot van die provinsie se gestremde jeug aangesien daar geen formele werkswinkels, opleidingsentrum of hulpbronne beskikbaar is om jong gestremde volwassenes tussen die ouderdom van18 tot 35 te akkommodeer nie.
Hierdie persone se gestremdhede verhinder hulle om die tradisionele arbeidsmark te betree en daarom moet geleenthede vir hulle geskep word om ‘n sinvolle lewe te lei en ‘n ekonomiese bydrae tot hul gemeenskappe te maak.
Daar is genoeg bewyse dat indien daar omgewings en geleenthede geskep word vir gestremdes, hulle ‘n ryke bydrae tot die samelewing kan maak. Hul uitsluiting van deelname aan die ekonomie is nie net ‘n teken van mislukte maatskaplike ondersteuning nie, maar ook ‘n aanklag teen die samelewing.
Ondernemingsgegronde vaardigheidsontwikkeling en praktiese projekte soos kralewerk, kuns en kunsvlyt, kan verseker dat hulle ‘n inkomste verdien en hul menswaardigheid behou.
Gestremdes se oorgang van skoolonderrig na formele opleidingsentrums moet as ‘n prioriteit gesien word.
In Mpumalanga ly gestremdes in landelike en geïsoleerde gebiede die meeste omdat daar feitlik geen geleenthede vir hulle is nie en hulle dikwels alleen en hulpeloos tuis gelaat word sonder enige stimulering.
Die VF Plus sal die LUR by haar woord hou en seker maak dat daar ‘n positiewe en volhoubare verandering gebring word in die omstandighede van die kwesbare jeug.