Die Mededingingskommissie wil nou ook rassekwotas as maatstaf gebruik om landbou, een van die min suksesvolle oorblywende sektore in Suid-Afrika, te transformeer.
Mnr. Tembinkosi Bonakele, voorsitter van die kommissie, sê in ‘n verslag dat landbou-korporasies ekonomiese apartheid in stand hou en dat hy gaan toesien dat rassekwotas in die waardeketting van dié sektor verskerp word deur die uitreiking van lisensies aan diensverskaffers te beïnvloed.
Hierdie dreigement raak nie net die landbou-sektor nie, maar laat rooi ligte flikker vir die groter vryemarkstelsel in Suid-Afrika.
Die kommissie het vandeesweek ‘n verslag van 408 bladsye oorhandig aan Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, ná ‘n demografiese studie oor ekonomiese konsentrasie.
In die aanbeveling word onder meer dringende ingryping in veral die landbou-waardeketting bepleit.
Die rasbeheptheid van die ANC-regering en die misbruik van die kommissie om in te meng in die vryemakstelsel om rasgedrewe doelwitte te bevorder, sal nie die toets van gesonde sakepraktyke slaag nie.
Dit sal eerder daartoe lei dat gevestigde en suksesvolle rolspelers in die waardeketting van die landboubedryf hul beleggings in Suid-Afrika afskaal en dat broodnodige werksgeleenthede verlore gaan.
Klein rolspelers, wat onder die minimum volhoubare skaal van die ekonomie sake doen, sal as ‘n direkte uitvloeisel hiervan ‘n verdere las op die staat en die belastingbetaler plaas.
Die ANC-regering se volgehoue beheptheid met ras lewer geen bydrae tot ekonomiese groei nie, maar lei eerder tot ‘n groter afhanklikheid van die staat en die agteruitgang van die ekonomie.
Dit is verder onaanvaarbaar dat Bonakele, wat bloot ‘n amptenaar in die departement van handel en nywerheid is, rasgedrewe politieke uitsprake van dié aard maak.
Die VF Plus gaan minister Patel hieroor konfronteer wanneer die verslag vroeg in 2022 voor die parlementêre komitee dien.