Die Openbare Beskermer (OB) moet die beweerde betaling van meer as R30 miljoen aan Brian Molefe en veral politieke betrokkenheid daarin tot op die hoogste vlak ondersoek met die spesiale versoek dat die betrokkenes persoonlik aanspreeklik gehou word indien die betaling onregmatig was, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.
Adv. Alberts sê daar moet ook duidelikheid gegee word of die geld ‘n pensioen-uitbetaling was en of dit ‘n goue handdruk was aangesien Molefe self as hoof uitvoerende beampte by Eskom bedank het.
Hy sê wat die geval ook al is, is dit duidelik onregmatig aangesien Molefe sowat R243 miljoen per jaar by Eskom sou moes verdien om vir ‘n pensioen-uitbetaling van R30 miljoen in aanmerking te kom. Sy salaris was egter R8 miljoen en hy was skaars anderhalfjaar in Eskom se diens.
“Dit is duidelik daar is groot ongerymdhede rondom dié uitbetaling en die OB moet politieke betrokkenheid tot op die hoogste vlak ondersoek.
“Die berig rakende die reuse betaling het die afgelope naweek in die Sunday Times verskyn en die VF Plus wil die media prys vir hul deurlopende waghondrol om ongerymdhede in staatskringe oop te vlek en die ANC-regering verantwoordbaar te hou.
“Die OB word gevra om in haar bevinding oorweging te skenk aan die moontlikheid dat betrokkenes, wat politici en amptenare insluit, persoonlik aanspreeklik gehou kan word vir die betaling,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403