fbpx
Vryheidsfront Plus

Hofsaak oor geheime stemming moet wye steun geniet

Die openbare druk teen die vergrype van pres. Jacob Zuma en die ANC-regering is duidelik besig om toe te neem en die VF Plus sal voortgaan om alle konstruktiewe inisiatiewe van politieke partye en burgerlike organisasies te steun wat dit ten doel het om van die president ontslae te raak, sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.

Dr. Mulder sê die VF Plus sal daarom ook sy volle steun toesê aan die poging van die UDM om deur middel van ‘n hofbevel die speaker van die parlement te dwing om ‘n mosie van wantroue in pres. Zuma deur ‘n geheime stemming te laat hou.

Hy sê daar het in die laaste weke verskeie spontane aksies ontstaan soos die burgerlike optogte van SaveSA, samewerking tussen politieke partye en die toetrede van kerk- en geestelike leiers wat stukrag aan die wekroep verleen dat die ANC van die president ontslae moet raak.

“Thabo Makgoba, die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, die Thabo Mbeki-stigting en ander het reeds in gesprek getree oor die noodsaaklikheid daarvan om ‘n nasionale gesprek of Kodesa oor die aangeleentheid te hou.

“Dit sluit aan by die oproep wat die VF Plus onlangs op kerk- en geestelike leiers gedoen het om leiding te neem waar die morele verval in die ANC aangespreek moet word.

“Dit kan nie betwyfel word nie dat ANC-parlementslede deeglik besef dat hulle politieke selfmoord sal pleeg indien hulle in ‘n oop stemming teen pres. Zuma sou stem.

“Indien die president oortuig was van sy parlementslede se getroue lojaliteit en steun, sou hy dit sekerlik nie nodig geag het om die aansoek om ‘n geheime stemming teen te staan nie,” sê dr. Mulder.

 

Kontaknommers: 083 626 4197 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.