Die VF Plus het sy bedenkinge oor die ‘foutlose vergoedingsfonds’ wat die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, rakende die voorgestelde vergoedingsfonds vir beserings weens Covid-19-inentings afgekondig het.
Die publiek is net vier dae gegun om kommentaar te lewer op die gepubliseerde regulasies om die Covid-19-vergoedingsfonds in die lewe te roep kragtens die Wet op Rampbestuur. Die regulasies is op 15 April gepubliseer en die sluitingsdatum vir kommentaar vanaf die publiek het gister, 19 April aan die einde van die werksdag geëindig.
Dit is vir die VF Plus onaanvaarbaar en die party dring daarop aan dat die tydperk vir openbare deelname verleng moet word na ten minste 30 dae om die publiek en organisasies ‘n regverdige kans te gun om voldoende kommentaar te lewer.
Die belastingbetaler gaan pa staan vir die R250 miljoen vergoedingsfonds wat mense moet vergoed vir beserings weens Covid-19-entstowwe en verdien die reg om insette te lewer oor hoe die fonds aangewend gaan word.
Vertroue in die regering is tans op ‘n laagtepunt weens korrupsie wat tydens Covid-19 hoogty gevier het en om regulasies te probeer deurdwing deur net vier dae aan die publiek te gun vir kommentaar, is nie net ondemokraties nie, maar laat ook die wenkbroue lig oor waarom daar so haastig opgetree word om die fonds aan die gang te kry.
‘n Verdere bekommernis is die feit dat die departement van gesondheid in beheer van hierdie fonds geplaas gaan word, maar dié betrokke departement is besaai en deurtrek van korrupsie en wanadministrasie. Daar sal dus geen vertroue wees dat die fonds nie ook geplunder gaan word nie.
Daar moet ook bekend gemaak word presies wie die paneellede van die fonds gaan wees en hoeveel lede op die paneel gaan dien wat na die eise en appèlle gaan kyk.
Die VF Plus sal die stigting en administrasie van die voorgenome vergoedingsfonds noukeurig volg en nie huiwer om die nasionale regering verantwoordelik te hou vir enige ongerymdhede nie.