Die ANC se peperduur beheptheid met Kubaanse kundigheid is onbekostigbaar en onaanvaarbaar.
Dit plaas onnodige druk op ‘n reeds dolleë fiskus en is ‘n klap in die gesig van werklose Suid-Afrikaanse kundiges wat oor meer as genoeg kundigheid beskik om alles en meer te doen as dit waarvoor Kubane ten duurste die land ingebring word.
Eerskomende Donderdag kom daar weer 24 Kubaanse ingenieurs in Suid-Afrika aan om te help met “waterdienslewering en verwante dienste”. Die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, gaan hulle self verwelkom.
Sover bekend is hulle nie by die Ingenieursraad van Suid-Afrika (ECSA) geregistreer nie. Hul kwalifikasies het nie die nodige akkreditasie wat ECSA erken nie en daarom mag hulle onder meer geen plan afteken nie.
Die ANC se historiese bande en ideologiese verknogtheid aan ‘n kommunistiese diktatuur het oor baie jare ‘n swaar en vrugtelose las vir Suid-Afrika geword.
Ace Magashule, gewese Vrystaatse premier, het in die meer onlangse verlede gestalte te gee aan hierdie vriendskap toe hy in 2015 37 Kubaanse ingenieurs as “tegniese raadgewers” in die Vrystaat aangestel het.
Dienslewering in dié provinsie het daarna in die teenwoordigheid van die Kubaanse “kundigheid” hand oor hand verswak. Dit teen ‘n koste van sowat R80 miljoen. Teen verlede jaar was daar nog net drie van die ingenieurs in die land oor.
Daar is ander soortgelyke voorbeelde. Soos die 150 Kubaanse tegniese kundiges wat moes help met die instandhouding van weermagvoertuie wat ‘n miljard rand-mislukking was (Netwerk24: Tesourie bloei vir Kubane in SA: 12 Junie 2020).
Verlede jaar is 187 mediese personeel van Kuba die land ingebring om met die Covid-19-pandemie te help terwyl daar plaaslike duisende werklose mediese kundiges was wat die werk kon doen.
Dit gaan duidelik nie oor die inbring van kundigheid tot voordeel van die land nie, maar ten koste van die land en al sy inwoners.