Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus sal ingryping van departement van water en sanitasie by Vaalstelsel-rioolbesoedeling fyn dophou

Die VF Plus in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit verwelkom die ingryping van die nasionale departement van water en sanitasie by die erge besoedeling van die Vaalstelsel. Die party sal die werksaamhede rondom die opruiming van die stelsel sorgvuldig volg om te verhinder dat belastinggeld nie weer in ‘n bodemlose put verdwyn nie.

Die departement het in ‘n skrywe aangedui dat agtien kontrakteurs op ‘n noodgeval-grondslag aangestel gaan word om die voortslepende rioolvloei in die Vaalrivier en omliggende omgewing, veral in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit, te behandel.

Die kontrakteurs se eerste taak sal wees om rioolverstoppings te verwyder en skoon te maak om ‘n beter vloei na rioolplase te verseker.

Kontrakteurs wat aangestel is om die werk te verrig deur die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit wat Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark en Vereeniging bedien, het hul werksaamhede gestaak weens wanbetaling deur die munisipaliteit.

Verouderde water- en rioolstelsels en wanadministrasie het die afgelope jare bygedra tot die erge besoedeling van die Vaalstelsel.

Emfuleni het nie genoeg geld om die rioolwerke te herstel of in stand te hou nie en is reeds in 2018 onder gedeeltelike administrasie geplaas.

Dit sal meer as R1 miljard kos om die stelsel te herstel terwyl 19 miljoen Suid-Afrikaners van die Vaalstelsel se water afhanklik is.

Die ingryping van die departement van water en sanitasie, kom nadat die Menseregtekommissie (MRK) die rioolbesoedeling van die Vaalstelsel, wat die Vaaldam, Vaalrivier, die Vaal Barrage en Rietspruit insluit, tot ‘n menseregteskending verklaar het.

Die MRK het aanbeveel dat die Gautengse en nasionale regering ingryp met die opruiming en rehabilitasie van die Vaalstelsel.

Die nasionale departement van water en sanitasie het ingevolge artikel 63 van die Wet op Waterdienste die bestuur van die waterdienste in Emfuleni oorgeneem.

Die ANC in Emfuleni het die eens vooruitstrewende munisipaliteit vernietig. Met die komende plaaslike regeringsverkiesing kan inwoners hierteen opstaan en saam met die VF Plus staan om ‘n sterk boodskap te stuur dat dit nie langer geduld sal word nie. Die verval moet gestop word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.