fbpx
Vryheidsfront Plus

Koalisieregering van Tshwane-metroraad vasberade om inwoners se vertroue deur finansiële stabiliteit te wen

Die vasberadenheid van die Tshwane-metroraad om finansiële stabiliteit na die metro te bring nadat die koalisieregering weer beheer oorgeneem het ná die tussentydse ANC-administrasie in November 2020, werp stadig maar seker vrugte af.

Die tussentydse ANC-administrasie het nie net die koalisie met ‘n R4 miljard skuldlas agtergelaat nie, maar ook nagelaat om gras te sny, stukkende straatligte te vervang en slaggate te herstel. Foutiewe diensterekeninge is uitgestuur, waterprobleme is traag behandel en vele meer.

Gedurende die metroraad se stadsrede verlede week is bekendgemaak dat die raad die afgelope drie maande 4 000 onwettige stortingsterreine opgeruim het, 75 000 straatligte is herstel, 45 miljoen vierkante meter gras is gesny en 10 800 slaggate is gevul.

Benewens die skuldlas en wanadminstrasie het die Covid-19-pandemie ‘n groot invloed op die metro se invordering van inkomste gehad. Die invordering van inkomste het teen die einde van die 2019-20-boekjaar tot minder as 75% gedaal.

Met die koalisieregering se oorname het die invordering van inkomste tot 88% gegroei en die oogmerk is om 95% te bereik.

Om finansiële welstand te bereik, is sekere maatreëls deur die metroraad ingestel waaronder die vermindering van nie-noodsaaklike uitgawes, inkomste-bevordering, om inwoners by te staan met agterstallige en foutiewe rekeninge, die herbesoek van diensverskaffingskontrakte asook effektiewe en verantwoordbare bestuur.

Die VF Plus is van mening dat meer gedoen kan word om die R18 miljard-munisipale skuld vir dienste gelewer deur die Tshwane-metro, in te vorder.

Teen die einde van 2020 het staatsdepartemente meer as R746 miljoen, ambassades meer as R18 miljoen, munisipale werknemers meer as R21 miljoen en raadslede meer as R950 000 aan die metroraad geskuld.

Die Tshwane-metro kan nie langer toelaat dat staatsdepartemente en ambassades se agterstallige skuld ophoop nie. Streng kredietbeheer moet toegepas word en wanbetalers wat nalaat om 'n afbetaling ooreenkoms met die metro aan te gaan, se elektrisiteit moet summier gesny word.

Benewens skuldinvorderingsaksies is dit ook belangrik dat senior amptenare wat hulle skuldig maak aan korrupsie en selfverryking, verantwoordbaar gehou word om die metroraad suksesvol te laat funksioneer.

Die VF Plus sal alles in sy vermoë doen om die Tshwane-metroraad te help om finansiële stabiliteit te bereik om so inwoners te dien.

Navrae: 083 448 9473

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.