fbpx
Vryheidsfront Plus

Enorme agterstand in Gauteng se forensiese departement strem howe

Die enorme agterstand van die Gautengse polisie se forensiese departement in die voorbereiding van forensiese verslae, bevestig die uitdagings waarmee lede van dié gespesialiseerde afdeling daagliks te doene kry.

Op ‘n vraag van die VF Plus aan die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, oor die agterstand van forensiese ondersoeke, is aangedui dat die syfer op 4 Maart vanjaar 149 391 was.

Mazibuko het ook bevestig dat slegs 35 kwantifiseringstelle op 4 Maart vanjaar by die laboratorium in Pretoria ontvang is. Die stelle word in die voorbereiding van forensiese ondersoeke gebruik.

Die tekort aan personeel en toerusting bemoeilik forensiese tegnici se werksaamhede in die voorbereiding van sake. Dit plaas howe onder druk omdat forensiese verslae nie betyds ingehandig kan word nie. Howe is dus genoodsaak om sake telkens uit te stel in afwagting van die verslae.

Die agterstand in die verskillende forensiese afdelings word as volg aangedui:

• Biologies (vergelyking van die slagoffer en verdagte se liggaamsvloeistowwe, haarmonsters en DNS-analise) – 111 342
• Ballisties (vuurwapen-analise) – 9 849
• Chemies (ondersoeke in misdade rakende brand, dwelms, chemiese ooreenstemming van verfmonsters in motorongelukke en meer) – 26 679
• Wetenskaplik – (ondersoek van forensiese monsters van materiale, vloeistowwe, medisyne, gifstowwe en meer) – 1 474
• Verdagte dokumente (dokument-ondersoeke van testament, titelaktes, kontrakte, ID-dokumente, handgeskrewe dokumente, ens.) – 44
• Slagoffer-identifisering – 3

Mazibuko het aangedui roetine-bewysstukke is binne 35 dae na registrasie gereed, nie-roetine bewysstukke is 113 dae na registrasie afgehandel en ballistiese bewysstukke 90 dae na registrasie.

Die VF Plus is nie tevrede met die verslag nie en gaan Mazibuko versoek om die Gautengse wetgewerkomitee vir gemeenskapsveiligheid meer breedvoerig in te lig sodat wesenlike probleme behoorlik behandel kan word.

Dit is onregverdig dat hofprosesse vertraag word en slagoffers se regte benadeel word weens personeel- en toerustingtekorte.

Die VF Plus gaan Mazibuko verder versoek om dringend met private laboratoriums saam te werk om agterstande af te handel .

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.