Die VF Plus gaan die vervolgingsgesag versoek om die mense wat betrokke was by die Life Esidimeni-tragedie en geweet het dat die nie-regeringsorganisasies nie na behore vir psigiatriese pasiënte kan sorg nie, van moord aan te kla en nie net van nalatigheid in terme van die strafreg nie.
Gedurende die arbitrasieverhoor rakende die Life Esidimeni-tragedie, het oudhoofregter Dikgang Moseneke bevind regeringsamptenare het verkeerd en roekeloos opgetree tydens die pasiënte se verskuiwing na versorgingsgeriewe en ongelisensieerde nie-regeringsorganisasies.
Altesame 144 psigiatriese pasiënte het tussen April en Junie 2016 gesterf nadat hulle deur die Gautengse departement van gesondheid verskuif is van Life Esidimeni na ongelisensieerde nie-regeringsorganisasies.
Dit voldoen aan die opsetvereistes van dolus enventualis wat ook as die opsetvereiste in die Oscar Pistorius-saak gebruik was waarna hy skuldig bevind is aan die moord van sy vriendin Reeva Steenkamp.
Die Gautengse regering was bewus daarvan dat die nie-regeringsorganisasies nie werklik die psigiatriese pasiënte kan versorg nie en het hom met daardie feit versoen.
Die VF Plus gaan ook vra dat ondersoek ingestel word oor hoe onbevoegde diensverskaffers op die departement se databasis beland het, gegewe hul onvermoë.
Die VF Plus is van mening dat die provinsiale departement van gesondheid en die Gautengse regering daarvan bewus was dat nie-regeringsorganisasies onbevoeg is om psigiatriese pasiënte te versorg.
Die Life Esidimeni-tragedie is weereens ‘n bewys dat swart bemagtiging vir die ANC-bloot die geleentheid vir tenderpreneurs skep om geld te maak, selfs al kos dit menselewens.


