Die VF Plus se voorstel aan die Gautengse provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, om ‘n samewerkingsooreenkoms tussen die polisie en private sektor te sluit om onwettige myners en kabeldiefstal aan die Wes-Rand te stop, is aanvaar.
Tydens ‘n vergadering tussen die VF Plus, die kommissaris, die distriksmunisipaliteite van die Wes-Rand en Randwest, die plaaslike munisipaliteite van Merafong en Mogale City, mynhuise en die provinsiale departement vir minerale hulpbronne en energie, het die party dit benadruk dat die polisie nie alleen verantwoordelikheid kan aanvaar vir die voorkoming van wydverspreide onwettige mynbedrywighede en kabeldiefstal nie.
Alle rolspelers, asook private sekuriteitsmaatskappye moet betrek word.
Luidens die Gautengse polisie se misdaadstatistiek vir die vierde boekjaar-kwartaal van 2021 (Januarie tot Maart), is 323 verdagtes in verband met onwettige mynbedrywighede aan die Wes-Rand in hegtenis geneem.
Die polisie voer weekliks operasies uit om onwettige myners vas te trek. Die onwettige groepe is ook in binnegevegte betrokke om hul myngebied te vergroot.
Tydens ‘n raadsvergadering van die Merafong-plaaslike munisipaliteit in Carletonville, is mynhuise ook versoek om privaat sekuriteitsmaatskappy te huur om mense te verhinder om myngrond onwettig te betree.
Dieselfde moet geld vir munisipaliteite wat privaat sekuriteitsmaatskappye moet huur om infrastruktuur te beskerm.
West Village, ‘n voormalige myndorp langs Krugersdorp, was onlangs vir tien dae sonder elektrisiteit nadat kragkabels verskeie kere gesteel is.
Die polisie in Gauteng kan nie langer alleen misdaad bekamp nie.
Die polisie, munisipaliteite, mynhuise en private sekuriteitsmaatskappye sal moet saamwerk om die verwoesting wat onwettige myners en kragkabeldiewe saai, stop te sit.