Die VF Plus eis in ‘n skrywe aan die speaker van die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein), Stella Mondlane, dat ‘n dringende raadsvergadering belê word om ‘n afbetalingstrategie goed te keur om die munisipaliteit se uitstaande skuld aan Eskom te delg.
Die munisipaliteit skuld Eskom meer as R1 miljard.
Hierdie skrywe volg op ‘n hofuitspraak gister wat Eskom gelyk gegee het dat die Matlosana-munisipaliteit die volledige uitstaande bedrag aan Eskom verskuldig is.
Indien Eskom sou voortgaan en kraglewering aan die munisipaliteit staak, sal die ekonomiese gevolge vir die inwoners en sakelui van Matlosana katastrofies wees.
Die munisipaliteit is weens jarelange wanbestuur tans nie eens in staat om sy maandelikse kragrekening aan Eskom ten volle te vereffen nie.
Die VF Plus het by herhaling gewaarsku dat hierdie ANC-beheerde munisipaliteit weens wanbestuur en nalatigheid die hele gemeenskap in ‘n krisis gaan dompel.
Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas en die persone verantwoordelik vir hierdie situasie aanspreeklik te hou.
Die inwoners van Matlosana verdien beter as die ANC.