Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus-voorlegging: Wysigingswetsontwerp op die Voorkoming van Uitsetting en die Onwettige Besetting van Grond se beskerming van eiendomsreg onvoldoende

Eiendomsreg sal nie voldoende beskerming geniet indien die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op die Voorkoming van Uitsetting en die Onwettige Besetting van Grond (PIE) wet word nie.

Dít blyk uit die VF Plus se skriftelike inset, wat gister ingedien is. Die party steun die doelwit om menswaardigheid en regsekerheid te bevorder, maar buiten onvoldoende beskerming van eiendomsreg, is dit ook ontoereikend ten opsigte van verskeie praktiese aangeleenthede.

Die bestaande PIE-wet het oor die afgelope twee dekades ontwikkel tot ‘n stelsel waar die finansiële – en regslas van onwettige grondbesettings toenemend private grondeienaars se probleem word, terwyl staatsorgane dikwels versuim om hul grondwetlike verpligtinge na te kom.

Die voorgestelde wetswysigings herstel nie hierdie wanbalans voldoende nie.

Die VF Plus se uitgangspunt is dat die reg op behuising en eiendomsreg beide grondwetlik beskermde regte is. Die een mag egter nie só toegepas word dat dit die ander in die praktyk vernietig nie. Artikel 25 van die Grondwet beskerm eiendomsreg en bly ‘n hoeksteen van ekonomiese groei, voedselsekerheid, beleggersvertroue en individuele vryheid.

Die VF Plus is veral daaroor bekommerd dat die wetsontwerp ruimte laat dat die staat se plig om alternatiewe behuising te voorsien, op private grondeienaars afgeskuif word. Daarenteen het die Grondwethof reeds bevestig dat hierdie verantwoordelikheid op die staat rus en nie op grondeienaars nie.

Die VF Plus het daarom voorgestel dat die wet voorsiening maak vir ‘n duidelike 14 dae-tydperk waarbinne onwettige en ongevestigde grondbesettings met die bystand van die polisie beëindig kan word.

Tans weier die polisie dikwels om op te tree omdat sulke sake as siviele geskille beskou word. Die gevolg is dikwels dat grondeienaars nie regshulp kan kry voordat besettings gevestig raak nie.

Die party het verder voorgestel dat aangrensende eienaars, gemeenskapsorganisasies en ander belanghebbende partye die reg moet hê om uitsettingsaansoeke te bring en dat alle betrokke staatsorgane verplig word om aan hofverrigtinge deel te neem.

Openbare ampsdraers wat onwettige grondbesettings fasiliteer of doelbewus versuim om op te tree, behoort ook strafregtelik aanspreeklik gehou te word.

Die VF Plus bly verbind tot menswaardige behuisingsoplossings, maar sal voortgaan om wetgewing te beveg wat die oppergesag van die reg verswak, staatsmislukkings op private burgers afskuif en eiendomsreg ondermyn.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.