Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit se begroting laat inwoners in die steek

Die VF Plus kan nie die voorgestelde 2026/27-begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) van die Dr. Beyers Naudé-plaaslike munisipaliteit steun nie weens fundamentele tekortkominge wat die proses se legitimiteit ondermyn, finansiële volhoubaarheid in gevaar stel en inwoners direk benadeel.

Die munisipaliteit se eie midjaar-verslae en ouditbevindings wys reeds ’n patroon van finansiële wanbestuur, onreëlmatige uitgawes en swak rekordhouding.

Hierdie onderliggende probleme word nie in die nuwe begroting of GOP aangespreek nie. Die dokumente ignoreer die werklike krisisse en bied geen geloofwaardige plan vir verbetering nie.

Die proses ly verder onder ernstige tekortkominge. Inwoners is nie betekenisvol betrek nie en verskeie dorpe en gemeenskappe het geen geleentheid gekry om insette te lewer nie. Dit beteken die GOP weerspieël nie die gemeenskap se werklike prioriteite nie. Daarby is vereiste kennisgewingstydperke en dokumentbeskikbaarheid nie nagekom nie, wat vrae laat oor die hele proses se regmatigheid.

Op diensleweringsvlak toon belangrike projekte uit vorige GOP’s min of geen vordering nie.

Watermetervervanging, rioolstelsels, padherstel en afvalbestuur bly in ’n kritieke toestand. Inwoners in dorpe soos Willowmore, Steytlerville en Jansenville sukkel steeds met gereelde wateronderbrekings en infrastruktuur wat vinnig agteruitgaan.

Finansieel word fondse nie doelmatig aangewend nie en daar is geen duidelike plan om die munisipaliteit se posisie te stabiliseer nie. Belangrike ondersteunende verslae en vorderingsverslae is ook nie tydig aan die publiek beskikbaar gestel nie, wat deursigtigheid verder ondermyn.

Hierdie tekortkominge lei tot ernstige gevolge vir inwoners: Kritieke gesondheidsrisiko’s soos onopgeloste asbesdakke in Lotusville word geïgnoreer, ekonomiese ontwikkeling word afgeskeep en basiese infrastruktuur bly agteruitgaan.

Die begroting en GOP dien nie die gemeenskap se belange nie en is nie finansieel volhoubaar nie.

Op 4 November het inwoners die geleentheid om vir die VF Plus te stem wat volhoubare finansies, regmatige prosesse en dienslewering eerste stel.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.